Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa staan onwrikbaar vas oor die handhawing van Suid-Afrika se beleid oor onverbondenheid
# Trump dreig om die media te dagvaar oor die gebruik van anonieme bronne
# En die Gossip Girl-ster Michelle Trachtenberg sterf op 39
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se verbintenis tot die beleid van aktiewe onverbondenheid herbevestig. Hy was deel van ‘n gesprek op die Goldman Sachs-konferensie in Johannesburg. Die dialoog het gefokus op kwessies soos ekonomiese groei, strukturele hervormings en internasionale betrekkinge. Ramaphosa sê Suid-Afrika sal nie beïnvloed word om kant te kies in wêreldkonflikte nie, veral nie deur globale moondhede nie, en dit sluit die Russies-Oekraïnse oorlog in:
# Die Save South Africa-burgerlike beweging sê dit is duidelik AfriForum en Solidariteit is daarop uit om die nalatenskap van apartheid voort te sit terwyl hulle voorgee hule is die slagoffers. Die organisasies het met verteenwoordigers van die Amerikaanse president, Donald Trump, in Washington vergader en voorspraak gemaak vir groter druk op ANC-leiers oor plaasmoorde, die Onteieningswet en die BELA-wet. Die beweging se woordvoerder, Tebogo Mahilompane, sê hulle is gewalg deur die vals verhale wat AfriForum en Solidariteit volhou:
Trump is intussen woedend oor ‘n neerhalende nuwe boek wat alles oor hom ontbloot en dreig om skrywers en media te dagvaar wat anonieme bronne gebruik. Hy het die dagvaarding van mense ‘n integrale deel van sy handelsmerk gemaak in sy reis van New Yorkse eiendomsmagnaat na Amerikaanse president. Hierdie keer het hy sy visier op die aanvaarde gebruik om naamlose bronne vir boeke en nuusstories te gebruik. Trump is ook berug vir sy minagting van die hoofstroommedia in Amerika, waarna hy as die fopnuus-media verwys.
# Sokker: Liverpool het Newcastle twee-nul geklop en is 13 punte voor op die Premierliga-punteleer. Dominik Szoboszlai en Alexis MacAllister se doele het die oorwinnning vir die Rooies beklink, wat hulle ‘n stap nader aan die titel bring. Arsenal se titelhoop is bykans verydel na ‘n doellose stryd teen Nottingham Forest, wat derde op die punteleer is. Manchester City het Tottenham een-nul geklop en is terug in die top-vier. Liverpool se hoofafrigter, Arne Slot, sê hulle dink nie nou aan die titel nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-102-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-887-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die ster van Gossip Girl en Buffy the Vampire Slayer, Michelle Trachtenberg, is op 39-jarige leeftyd oorlede. Volgens die stad New York se polisiedepartement is sy bewusteloos aangetref in haar woonstel in Manhattan en mediese noodpersoneel het haar op die toneel dood verklaar. Die polisie sê geen misdaad word vermoed nie. Trachtenberg het ook gespeel in flieks soos 17 Again saam met Zac Efron en Matthew Perry, asook in Ice Princess en Eurotrip.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….