Nuus 09:00
BULLETIN 27 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa het 143 nuwe opwekkingsfasiliteite geregistreer
# Suid-Afrikaanse navorsers bevind bruin sprinkane hou ‘n gesondheidsrisiko in
# En Trump dreig om 25-persent tariewe op EU-goedere in te stel
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika sê hy het 143 opwekkingsaanlegte in die derde kwartaal van die 2024/2025-boekjaar suksesvol geregistreer. Die nuwe fasiliteite dra altesaam een-duisend-107 megawatt tot die netwerk by en verteenwoordig ‘n belegging van 23-miljard-rand. Die Wes-Kaap, Gauteng en Noordwes is die voorlopers met die meeste nuwe registrasies. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê sonkrag is die tegnologie wat die meeste aftrek in die tydperk gekry het:
# Suid-Afrikaanse navorsers het vir die eerste keer bevestig bruin sprinkane dra die patogene gis, Candida auris, wat weerstandig is teen medikasie en wêreldwyd ‘n bedreiging vir gesondheid inhou. Hierdie gis kan ernstige infeksies by mense met verswakte immuunstelsels veroorsaak. Wetenskaplikes van die Universiteit van die Vrystaat, die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens en die Universiteit van Venda het flukonasool-weerstandige stamme in sprinkane se spysverteringskanale gevind, wat kommer wek oor omgewingsverspreiding. Hoewel gesonde individue ‘n lae risiko het, beklemtoon navorsers die behoefte aan nuwe teen-swam behandelings.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die belangrikste fokus vir die volgende vyf jaar is om sakeondernemings te help om te groei om werksgeleenthede te skep. Hy het gisteraand die provinsiale rede in Beaufort-wes gelewer. Die provinsie het ‘n begrotingstekort van 3,8-miljard-rand, omdat hy slegs 64-persent van die onderhandelde loonooreenkoms vir staatsamptenare van die regering ontvang het. Winde sê die werkloosheidsyfer van 19,6-persent is steeds te hoog:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê hy beplan tariewe van 25-persent op goedere wat in die Europese Unie vervaardig word, en beskuldig die blok van 27 lande dat hulle Amerika uitbuit. Dié blok lande is saam met China Amerika se derde grootste handelsvennoot. Trump het vroeër die maand onverwags ingestem om 30 dae te wag voordat hy tariewe van 25-persent teen Kanada en Mexiko instel. Hy het tydens sy eerste kabinetsvergadering by die Withuis gesê die EU bied nie voordele vir Amerika nie:
# Tennis: Die eerste gekeurde Rus, Daniil Medvedev, is vir die derde agtereenvolgende jaar deur na die kwarteindronde van die Dubai-kampioenskappe. Die 2023-kampioen het die Fransman Giovanni Mpetshi Perricard uitoorlê. Medvedev kom nou teen die Nederlander Tallon Griekspoor te staan wat die Fransman Ugo Humbert geklop het om sy 18de toervlak kwarteindronde te haal. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het Karen Khachanov van Rusland verslaan om sy 350ste toervlak-oorwinning te behaal terwyl die Italianer Matteo Berrettini met die Australiër Christopher O’Connell afgereken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-677-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-905-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….