Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verander sy Gautengse leierskap om party-eenheid en hernuwing te versterk
# Krieket: ‘n Australiese draaibouler se verdagte boulaksie word goedgekeur
# En Chinese kosliefhebbers doen hulself voor as roubeklaers om die begrafnisondernemer se noedels te proe
# Die ANC het ‘n hersaamgestelde leierskap vir Gauteng aangekondig. Dit is gedoen om party-strukture te versterk en voor te berei vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Die nuwe provinsiale taakspan bestaan uit die provinsiale sameroeper, Amos Masondo, mede-sameroeper Panyaza Lesufi, Ntombi Mekgwe, Hope Papo, Nomantu Nkomo-Ralehoko en Tasneem Motara. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbulula, het aan die media gesê die span se doelwitte is die uitroei van korrupsie, ekonomiese hervorming en gemeenskaps-betrokkenheid:
# Die DA versoek die Onafhanklike Polisie-Ondersoekdirektoraat om die polisie se hantering van die bedrogsaak teen die voormalige burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda, te ondersoek. Die party beweer ondersoekbeamptes het slagoffers van die bedrog onder druk geplaas om die saak buite die hof te skik en hulle is nie ingelig oor die voorlopige terugtrekking van die aanklagte nie. DA-woordvoerder, Belinda Kayser-Echeozonjoku, glo dit ondermyn die integriteit van die strafregstelsel:
# Die Britse regering het aangekondig ‘n beleid wat die gebruik van buitelandse seisoenwerkers op plase toelaat, word vir nog vyf jaar verleng. Dit word gedoen om bande met boere te herstel. Die Departement van die Omgewing, Voedsel en Landelike Sake sê die stap sal plase genoeg werkers en sekerheid gee om hulle ondernemings uit te bou. Boere is tans gewikkel in ‘n geskil met die regering oor planne om plase se uitsluiting van boedelbelasting te staak.
# Krieket: Deskundiges het die boulaksie van die Australiese linkerhandse draaibouler Matt Kuhnemann goedgekeur nadat dit vroeër die maand uitgewys is tydens die tweede toets teen Sri Lanka. Die wedstrydbeamptes het vermoed die boulaksie is onwettig en Kuhnemann is by die Nasionale Krieketsentrum in Brisbane getoets. Die Internasionale Krieketraad sê sy skorsing is nou opgehef. Die 28-jarige Kuhnemann het nege toetse vir Australië gespeel. Hy het 16 paaltjies laat kantel in die reeks van twee toetse teen Sri Lanka, wat Australië 2-nul ingepalm het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-504-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-894-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Kosliefhebbers in China stroom na die Erlong-begrafnisonderneming in die suidwestelike provinsie Guizhou nadat ‘n noedelgereg met gemaalde varkvleis en grondboontjies wat daar bedien word, wyd versprei is op sosiale media. Die kombuis maak voorsiening vir die begrafnisondernemer se kliënte, maar nadat die video oor sy noedels versprei is, het hordes mense begin opdaag om die kos te proe – sommige wat hulle as roubeklaers voordoen. Die begrafnisondernemer het intussen besluit om elke dag 50 gratis bakkies noedels uit te deel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….