Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis leefstyloudits vir Johannesburgse amptenare na die Ouditeur-generaal se verdoemende verslag
# Amerika sê samesprekings oor die tweede fase van die Gaza-skietstilstandsooreenkoms is op dreef
# En rugby: Die All Black-veteraan Ma’a Nonu speel weer vir Toulon op 42
# Die DA sê die Ouditeur-generaal se verslag oor Johannesburg moet tot daadwerklike optrede lei en nie slegs bespreek word nie. Die party versoek leefstyl- en vaardigheidsoudits van senior amptenare en sê die stad word lamgelê weens wanbestuur en korrupsie. Die party het die nasionale regering aangemoedig om in te gryp en waarsku die hulpbronne in Johannesburg word misbruik en dienslewering ly daaronder. Die DA-lid, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê ouditbevindings moet ernstig opgeneem word om aanspreeklikheid te verseker en behoorlike bestuur te herstel:
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement vra kalmte te midde van die uitbreking van hand-voet-en-mondsiekte. Die provinsie het tot dusver 13 gevalle by vier onderwyssentrums in Oos-Londen aangemeld. Die departement se woordvoerder, Siyanda Manana, sê die uitbreking bly onder beheer en daar is tans geen ernstige bedreiging vir openbare gesondheid nie:
# Botswana het die lank-vertraagde diamantverkope-ooreenkoms met De Beers onderteken, wat werkskepping te midde van ekonomiese uitdagings versterk. President Duma Boko, wat in Oktober aan bewind gekom het, het voorkeur gegee aan die ooreenkoms. Dit sal Botswana se gedeelte van die rou diamante van die Debswana-gesamentlike onderneming die volgende dekade tot 50-persent verhoog. Die ooreenkoms verleng Debswana se mynlisensie tot 2054. Botswana hoop die ooreenkoms sal die land se ekonomie versterk nadat dit gely het onder verlede jaar se afplatting in die internasionale diamantmark.
# Amerika sê samesprekings oor die tweede fase van ‘n skietstilstandsooreenkoms in Gaza is op dreef nadat Hamas aangekondig het Israel het ingestem om Palestynse gevangenes vry te laat in ruil vir die liggame van vier Israelse gyselaars. Die wapenstilstand het die oorlog tussen Israel en Hamas grootliks gestuit en 25 gyselaars is reeds vrygelaat in ruil vir honderde gevangenes. Die ingewikkeldheid en die uitgerekte instelling daarvan beklemtoon egter hoe broos die situasie in ‘n oorlog is wat miljoene lewens aan beide kante van die konflik vernietig het.
# Rugby: Die veteraan-Nieu-Seelandse senter Ma’a Nonu sal tot die einde van die seisoen vir die Franse Top 14-klub Toulon speel. Die 42-jarige het die klub reeds twee keer in die verlede verteenwoordig. Hy het 103 toetse vir die All Blacks gespeel en was deel van die span wat die Wêreldbeker in 2011 en 2015 gewen het. Hy staan in vir Setariki Tuicuvu, Gabin Villiere en Antoine Frisch, wat almal beseer is. Nonu is in die span wat Saterdag teen Lyon speel. Toulon is tans tweede op die Top 14-punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-195-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-913-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….