Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie styg tot 3,2-persent nadat mandjie goedere aangepas is
# Die Britse eerste minister vertrek na Washington vir ‘n vergadering met Trump oor Oekraïne
# En krieket: Afganistan se afrigter sê hulle besef dinge is nie reg in hulle land nie
# Verbruikersinflasie het in Januarie tot 3,2-persent gestyg, die eerste vasstelling nadat die mandjie goedere aangepas is. Dit is effens hoër as die drie-persent in Desember en effens laer as wat ekonome verwag het. Die nuwe mandjie sluit items in waarop Suid-Afrikaners meer geld bestee. Die Reserwebank sal hierdie data in berekening bring wanneer hy op 20 Maart sy volgende besluit oor die rentekoers moet neem. Dit hang ook af van wat in die finale nasionale begroting besluit word aangesien ‘n verhoging in BTW ook tot hoër inflasie sal lei.
# President Cyril Ramaphosa sê die G20 wat in Afrika aangebied word, beklemtoon dat die vasteland se belangrikheid in globale ekonomiese en politieke gesprekke toeneem. Hy het vandag in Kaapstad gepraat op die eerste vergadering van G20-ministers van Finansies en bestuurders van sentrale banke onder die presidentskap van Suid-Afrika. Ramaphosa sê die beraad se ligging beklemtoon die behoefte vir Afrika-stemme om gehoor te word rondom kritieke globale kwessies soos volhoubare groei, die digitale ekonomie en groen nywerheidskwessies:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, het die stad se veelparty-koalisieregering se verbintenis tot nouer samewerking met die diplomatieke gemeenskap herbevestig. Sy het vergader met die afgevaardigdes van ambassadeurs, insluitend van Mexiko, Tsjad, Singapoer en Liberië. Moya se woordvoerder, Zintle Mahlati, sê die burgemeester het beklemtoon dat Tshwane besig is met die instelling van ‘n veldtog wat misdadige elemente bestry – iets wat heeltemal te algemeen in die metro voorkom:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, bring ‘n uiters belangrike besoek aan die Withuis om die Amerikaanse president, Donald Trump, te probeer oorreed om sekerheidswaarborge vir Oekraïne te verskaf as deel van enige skietstakings-ooreenkoms met Rusland. Hy wil voortbou op die Franse president, Emmanuel Macron, se besoek aan Washington Maandag toe hy gewaarsku het vrede kan nie oorgawe vir Oekraïne beteken nie. Starmer sal Kiëf moet verdedig sonder om Trump te ontstel nadat hy Europa onverhoeds betrap het deur gesprekke te voer met die Russiese president, Vladimir Putin.
# Krieket: Afganistan se afrigter, die gewese Engelse kolwer Jonathan Trott, sê sy spelers besef maar te goed dinge is nie reg in hulle land nie. Hy het reageer nadat sowat 200 Britse politici vroeër vanjaar gevra het Engeland moet vandag se Kampioenetrofee-wedstryd teen die Asiese land in Lahore, Pakistan, boikot. Hulle was bekommerd oor die Taliban-regime se onderdrukking van vroueregte, insluitend hulle deelname aan sport. Trott sê sy spelers het die vermoë om verandering teweeg te bring. Afganistan het die loot gewen en kolf eerste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-793-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….