Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die globale chemikalieë en energiemaatskappy Sasol sê hy verander sy vrystellingsverminderingspadkaart aansienlik. Die padkaart mik egter steeds na ‘n 30-persent kweekhuisgasvrystelling-vermindering teen 2030. Sasol se uitvoerende hoof, Simon Baloyi, sê hulle het planne laat vaar om vloeibare natuurlike gas te gebruik om afhanklikheid van steenkool by die Secunda-aanleg in Mpumalanga te verminder. Die aanleg is die grootste enkele vrysteller van kweekhuisgasse ter wêreld. Baloyi sê hulle beplan nie om Secunda se produksievlakke te laat afneem nie totdat die natuurlike gasvoorraad in 2034 opdroog.
# Die Litterboom-projek, gevestig in afvalherwinning, het sy Kaapstadse Vernuwingspilpunt by die Rondebosch-gholfklub van stapel gestuur. Die gerief konsentreer op afvalvernuwing, herwinning en volhoubaarheid. Die uitvoerende hoof, Cameron Service, sê die spilpunt sal hulle werk in die Wes-Kaap ingrypend verander, wat insluit die uitbreiding van die Wastepreneur-program, en die bemagtiging van toekomstige probleemoplossers met vaardighede en kennis oor plastiek- en afvalbeleid. Suid-Afrika lewer elke jaar meer as 2,5-miljoen ton plastiek op.
# En ten slotte: ‘n Studie van jaarring-rekords het onthul stygende wêreldtemperature beïnvloed droogtetoestande in Europa en Asië. Navorsers het die Groot Eurasiese Droogte-atlas ontleed. Die bevindings wat in AGU Advances gepubliseer is, wys dat moderne droogtetoestande in streke soos Oos-Europa en die Middellandse See-gebied deur klimaatsverandering veroorsaak word eerder as natuurlike veranderlikheid. Aan die anderkant toon bevindings dat gebiede soos Noord-Europa en Tibet weens stygende temperature natter word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….