Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugbynuus: Die stut van die Springbokke en die Stormers, Steven Kitshoff, moes noodgedwonge sy uittrede aankondig weens ‘n ernstige nekbesering. Dokters het hom ingelig dis uiters gevaarlik om voort te gaan. Die 33-jarige het 83 toetse vir Suid-Afrika gespeel, twee keer die Wêreldbeker gewen asook ‘n reeks teen die Britse en Ierse Leeus en ʼn Rugbykampioenskap. Hy het ook 138 wedstryde vir die Stormers gespeel. Kitshoff sê die sport was sy lewe vanaf sy kinderdae en hy was gelukkig om die droom van baie jong seuns uit te leef.
Nog slegte nuus vir die Bokke is dat die stut Trevor Nyakane die res van die seisoen kan misloop nadat hy sy Achilles-tendon geskeur het in ‘n wedstryd vir die Haaie. Hy het sy enkel verstuit tydens die Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting met die Bulle die vorige naweek en moes ‘n operasie ondergaan. Die 35-jarige het op sosiale media gesê sy dokters is baie tevrede met die prosesure. Hy sê hy moet net positief bly terwyl hy herstel. Nyakane sê hy hoop steeds om nog drie jaar te kan speel.
# Vervolgens, gholf: Die Stad Johannesburg sê hy is gereed om elite spelers van reg oor die wêreld te ontvang wanneer die 17de Johannesburgse Ope vroeg volgende maand na die Houghton-klub terugkeer. Die baan het ‘n trotse geskiedenis as ‘n kampioenskapsgerief, met die aanbieding van nie minder nie as agt SA Ope-byeenkomste. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê voorbereidings is aan die gang, en bemarkingspogings word opgeskerp om meer toeskouers te lok na vanjaar se toernooi:
# Krieketnuus: Nieu-Seeland is deur na die Kampioenetrofee se halfeindronde nadat hy Bangladesj in Rawalpindi, Pakistan, met vyf paaltjies verslaan het. Die draaibouler Michael Bracewell het die beste eendagwedstryd-syfers van sy loopbaan aangeteken, vier vir 26 lopies, om te help om Bangladesj tot 236 vir nege te beperk. Rachin Ravindra het daarna sy vierde eendag-honderdtal behaal en die Swartpette het die teiken bereik met meer as drie boulbeurte oor. Nieu-Seeland se oorwinning beteken die gasheerland is uitgeskakel, terwyl Indië ook onder laaste vier is.
# Ons sluit af met motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, sal die naweek se eerste Grand Prix van die seisoen in Thailand misloop na ‘n nuwe besering tydens oefeninge in sy geboorteland. Die 27-jarige Spanjaard is vroeër die maand geopereer nadat hy sy regterhand en -voet gebreek het in ‘n botsing in Maleisië. Martin se nuwe span, Aprilia, sê hy het nou sy linkerhand gebreek en word vandag in Barcelona geopereer. Die hersteltyd sal na die operasie beoordeel word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….