Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA onthul 16-miljoen-rand se verkwisting deur die Ministerie vir Menslike Nedersettings
# ‘n Voormalige chirurg word in Frankryk verhoor vir die verkragting of seksuele aanranding van honderde pasiënte
# En tennis: Die Russiese tiener Mirra Andreeva verbeter tot negende op die wêreldranglys
# ActionSA het onthul dat die voormalige minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, en haar span meer as 16-miljoen-rand aan reiskostes bestee het. Sy het op ‘n parlementêre vraag geantwoord 5,3-miljoen-rand is op vyf internasionale reise uitgegee en 11-miljoen-rand vir plaaslike geleenthede. Die onkoste sluit in 200-duisend-rand vir een nag in Beijing en meer as 200-duisend for verblyf op die Wêreld-Ekonomiese Forum. Matthew George van ActionSA voer aan dat die koste onregverdigbaar is terwyl miljoene Suid-Afrikaners steeds dakloos is:
# Die DA in Gauteng sê die provinsiale Gesondheidsdepartement se agterstallige skuld het binne drie maande van 4,8- tot 7,3-miljard-rand gestyg. Die DA-lid Jack Bloom sê hierdie begrotingstekort van elf-persent het veroorsaak dat poste gevries word, vertragings in betalings aan verskaffers, en tekorte aan kritieke mediese voorraad. Hy vra ‘n dringende verandering in die departement se leierskap:
# Die families van die Suid-Afrikaanse ingenieurs, Frik Potgieter en Peter Huxham, het 15-duisend handtekeninge ingesamel om hulle vrylating uit die tronk in Ekwatoriaal-Guinee te eis. Die versoekskrif word aan die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, asook belangrike parlementêre persone oorhandig en dring aan op dringende diplomatieke optrede. Die twee bly agter tralies ondanks die Verenigde Nasies se uitspraak wat hulle aanhouding as onwettig bestempel. Hul families vra ingryping deur die Suid-Afrikaanse en Britse regerings, sowel as begenadiging deur die president van Ekwatoriaal-Guinee.
# ‘n Voormalige chirurg staan vandag in Frankryk tereg op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding van honderde pasiënte. Die 74-jarige Joel le Scouarnec is reeds in die tronk nadat hy in 2020 skuldig bevind is aan die mishandeling van vier kinders. Hy word nou aangekla van die aanranding of verkragting van nog 299 pasiënte tussen 1989 en 2014, na bewering terwyl hulle wakker geword het na narkose of tydens ondersoeke na operasies. Twee-honderd-56 van die slagoffers was jonger as 15, die jongste ‘n eenjarige baba, en die oudste 70.
# Tennis: Die Russiese tiener, Mirra Andreeva, het met vyf plekke opgeskuif tot negende op die wêreldranglys nadat sy die naweek die Doebaise Kampioenskap ingepalm het. Die Italianer Jasmin Paolini het met twee plekke teruggesak na sesde. Aryna Sabalenka van Belarus is steeds die wêreld-nommer-een, gevolg deur Iga Swiatek van Pole en drie Amerikaners – Coco Gauff, Jessica Pegula en die Australiese Ope-kampioen, Madison Keys. Elena Rybakina van Kazakstan is sewende, Qinwen Zheng van China agste en nog ‘n Amerikaner, Emma Navarro, voltooi die top tien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-763-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-949-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-98-sent per vat.
Bly igeskakel vir meer nuus……………….