Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag en die voorgestelde BTW-verhoging mag die ANC duur te staan kom in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing
# Die Gautrein voltooi herstelwerk aan die tonnelgedeelte tussen Rosebank en Parkstasie
# En rugby: Die Noordwes-Universiteit hernoem ‘n koshuis na Siya Kolisi-huis
# Politieke kenners waarsku dat die ANC ‘n teenreaksie van kiesers kan verwag in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing weens die voorgestelde BTW-verhoging van twee persentasiepunte en die hervatting van beurtkrag. Die politieke ontleder Pule Monama het aan Citizen gesê die voorgestelde BTW-verhoging is ‘n self-toegediende wond, terwyl Lesiba Teffo sê dit sal kiesers se besluite beïnvloed in 2026. Ontleders stel ‘n verhoging van een-persentasiepunt voor met meer produkte wat van BTW vrygestel word. Hulle sê plaaslike gemeenskappe spreek ook hulle frustrasie uit oor swak bestuur en ekonomiese ellende.
Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê intussen rugsteunmaatreëls is getref om hospitale en klinieke aan die gang te hou tydens beurtkrag. Dit volg nadat Eskom die naweek fase ses-beurtkrag ingestel het, maar dis intussen afgeskaal na fase vier. Woordvoerder Motalatale Modiba sê 18 van die provinsie se 37 hospitale het kragopwekkers, terwyl die res van kragonderbrekings vrygestel is:
# Die Gautrein sê die herstelwerk aan die tonnelgedeelte tussen Rosebank en Parkstasie is die naweek veilig afgehandel. Onwettige boorbedrywighede op ‘n privaat eiendom bokant die tonnel het die tonnel beskadig en veroorsaak dat water en grond ingesypel het. Die treindiens is daarna opgeskort. Die Gautrein se woordvoerder, Kesagee Nayager, sê die treindiens werk sedert vanoggend ten volle:
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging waarsku Suid-Afrika verkeer in gevaar vir die verspreiding van voëlgriep nadat die pluimveebedryf in Europa, Amerika en Argentinië reeds swaar deurgeloop het. Die vereniging vra dringende inenting om verdere verliese te voorkom ná die uitwerking op die pluimveebedryf in 2023. Die vereniging vra die Departement van Landbou om sy streng maatreëls te verminder omdat boere sukkel om goedkeuring vir inentings te bekom. Bedryfsleiers waarsku indien daar nie opgetree word nie, kan daar ernstige gevolge op voedselsekerheid en pryse wees.
# Rugby: Springbokkaptein Siya Kolisi woon vandag die herbenoeming van die Dennedorp-koshuis van die Noordwes-Universiteit na Siya Kolisi-huis by. Bokafrigter Rassie Erasmus sal ook ‘n nuwe multi-sport-koshuis, Invictus, op die kampus inwy. Die huisvader van Siya Kolisi-huis, Funani Mabala, het aan SABC News gesê hulle beoog om studente te inspireer deur deursettingsvermoë en uitnemendheid in sport en leierskap te vier:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-468-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-939-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….