Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Spesiale kabinetsvergadering word vandag gehou om die dooiepunt in die begroting te bespreek
# Rugby: Engeland neem wraak vir Russell se selfvoldaanheid van ‘n jaar gelede
# En die Suid-Afrikaanse Weerdiens se lugvaart-webtuiste is weer aanlyn na ‘n kuberaanval
# President Cyril Ramaphosa hou vandag ‘n spesiale kabinetsvergadering om die omstrede begroting te bespreek. News24 berig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal na verwagting ‘n alternatiewe begroting voorlê ná die onenigheid in die regering van nasionale eenheid oor die voorgestelde BTW-verhoging van twee-persentasiepunte. Die begroting is verlede week tot 12 Maart uitgestel as gevolg van hierdie dooiepunt. Die vergadering beoog om ‘n middeweg te vind te midde van kommer oor inkomstetekorte en ekonomiese druk.
Die GOOD-party vra die Nasionale Tesourie intussen om nie wat hy as progressiewe voorsiening beskryf, uit die begroting te laat saam met die BTW-verhoging van twee-persent nie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê verbintenisse moet in die begroting behou word wat lewenstandaarde en ekonomiese langtermyn-vooruitsigte sal verbeter:
# Die ontruiming van gewonde soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag uit die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo begin dié week. Daar is byna 190 gewonde en siek Suid-Afrikaanse soldate in die DRK, van wie ten minste vyf ernstig beseer en twee swanger is. Die soldate is verlede maand gewond in gevegte teen die Rwandees-gesteunde M23-rebelle. Gewonde soldate uit Tanzanië en Malawi sal ook ontruim word in ‘n operasie gelei deur die Verenigde Nasies.
# Rugby: Engeland se Sesnasies-oorwinning oor Skotland op Twickenham kan gesien word as wraak vir die Skotse mede-kaptein, Finn Russell, se selfvoldaanheid van ‘n jaar gelede. Russell het na verlede jaar se vierde agtereenvolgende oorwinning oor hulle aartsvyand gesê dit word ‘n gewoonte. Engeland het egter vanjaar die Calcuttabeker teruggewen deur Skotland 16-15 te klop nadat Russell drie doelskoppe verbrou het. Die laaste een was in die doodsnikke toe hy nie die vleuel Duhan van der Merwe se drie kon verdoel om die wedstryd te beklink nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-739-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-943-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se lugvaart-webtuiste is weer aanlyn ná ʼn kuberaanval in Januarie wat die instelling se inligting- en kommunikasietegnologie-infrastruktuur geraak het. Die lugvaartbedryf het nou weer toegang tot noodsaaklike dienste soos belangrike internasionale weerkaarte, windkaarte, plaaslike en internasionale vlugdokumente en radarbeelde. Woordvoerder Oupa Segalwe sê ander produkte soos plaaslike weerkaarte en lugdrukkaarte ondergaan funksionaliteitstoetse en sal binnekort weer beskikbaar wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….