Nuus 11:00
BULLETIN 24 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê onenigheid is te wagte in die regering van nasionale eenheid
# USAID dank twee-duisend werknemers af
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter is tevrede met hulle tweede plek in Vancouver
# President Cyril Ramaphosa sê meningsverskille, weersprekings en verskillende besluite is deel van regerings wat uit verskeie politieke partye bestaan. Dit volg op verlede week se uitstel van die begrotingstoespraak oor verskille binne die regering van nasionale eenheid oor voorgestelde belastingverhogings. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief sodanige verskille beteken nie die regering verkeer in ‘n krisis nie, maar dat die demokrasie werk. Ramaphosa sê dit is noodsaaklik dat die verskillende partye se kommer oor die begroting behoorlik aandag kry ter wille van deursigtigheid en die bou van konsensus.
# Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, gevra om haar statutêre magte te gebruik om op te tree teen munisipaliteite wat nie hul jaarlikse finansiële state betyds indien nie. Die getal uitstaande oudits is sedert 31 Januarie tot nege verminder, maar die Mafube-munisipaliteit in die Vrystaat se jaarstate is steeds uitstaande. Maluleke sê munisipaliteite kan na die Parlement se staande komitee op Openbare Rekeninge verwys word om vas te stel wat die vertragings veroorsaak.
# Vier verdagtes is doodgeskiet in ‘n skermutseling met die polisie in Ntuzuma in die noorde van Durban. Die verdagtes het in twee voertuie gereis en was na bewering op pad om ʼn rooftog uit te voer in KwaMashu toe die skietery plaasgevind het. ʼn Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê drie vuurwapens is op die toneel gevind:
# Sowat twee-duisend werknemers van die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling reg oor die wêreld is afgedank, terwyl sowat vier-duisend-200 werkers op administratiewe verlof geplaas is. ‘n Federale regter het Vrydag die weg gebaan vir die Trump-administrasie om duisende werknemers van USAID op verlof te plaas. USAID is die wêreld se grootste enkele skenker van humanitêre bystand. Die tegnologie-miljardêr Elon Musk, wat die leier is van die Departement van Regeringsdoeltreffendheid, het USAID uitgekryt as ‘n misadige organisasie en ‘n addernes van radikaal-linkse Marxiste wat Amerika haat.
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hulle het hul doelwitte bereik ondanks hul tweede plek in Vancouver, Kanada. Suid-Afrika het in die eindstryd 19-12 verloor teen Argentinië, wat sy vierde agtereenvolgende titel in die toernooi ingepalm het. Die Blitsbokke het steeds ‘n kans om die wêreldreeks te wen, met twee rondes wat oorbly. Snyman sê hulle het die eindstryd verloor, maar in baie ander opsigte gewen:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-876-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-940-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-3-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….