Nuus 06:00
BULLETIN 24 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag is tot fase vier verminder
# ‘n Kenner ondersteun die Amerikaanse sanksies teen ‘n Rwandese minister
# En rugby: Die Junior Bokke wen ’n harde stryd teen Georgië
# Ons begin met goeie nuus: Beurtkrag is tot verdere kennisgewing tot fase vier verminder, ná die suksesvolle herwinning van verskeie eenhede. Meer volg in ons volgende bulletin.
Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het die land intussen verseker dat beurtkrag binnekort iets van die verlede sal wees. Weens die veelvuldige uitskakeling van eenhede en instandhouding het Eskom Sondagoggend fase ses-beurtkrag ingestel. Vyf opwekkingseenhede het by die Majuba-kragstasie in Mpumalanga van lyn gegaan. Ramokgopa sê die regering bly verbind tot die opwekkingsherstelplan, wat positiewe resultate lewer ondanks terugslae af en toe:
Ramokgopa het ook enige gerugte van vuilspel tydens die huidige instelling van beurtkrag ten sterkste ontken. Eskom het Saterdag die herinstelling van beurtkrag op fase drie aangekondig, waarna dit Sondagoggend tot fase ses aangepas is. Ramokgopa sê hulle sal nooit doelgerigte besluite ten koste van die netwerk neem nie, want die gevolge sal uiters negatief wees:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, en die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, gaan inligting verstrek oor die vordering wat gemaak is om aanbevelings oor die gesondheidsmark-ondersoek in te stel. Die navraag, gelei deur voormalige hoofregter Sandile Ngcobo, het mededingings-hindernisse in privaat gesondheidsorg uitgelig, insluitend onreguleerde pryse en eksklusiewe kontrakte. Die woordvoerder van die Gesondheidsdepartement, Foster Mohale, sê die ministers sal regeringsingrypings uiteensit om mededinging en deursigtigheid in die sektor te verbeter en ook langdurige bekommernisse aanpak om regverdiger toegang tot gesondheidsdienste te verseker.
# Die DA in Gauteng verwag premier Panyaza Lesufi se komende provinsiale rede sal gevul wees met leë beloftes. Provinsiale leier Solly Msimanga beskuldig hom dat hy inwoners mislei terwyl werkloosheid styg en infrastruktuur in duie stort. Hy wys op voortgesette kwessies soos oorvol skole, munisipaliteite wat misluk en onvervulde behuisingsbeloftes. Msimanga vra ware oplossings in plaas van korttermyn-ingrypings en sê Gauteng het leierskap nodig wat voorkeur gee aan volhoubare werkskepping en infrastruktuur-ontwikkeling.
# ‘n Kenner van internasionale betrekking, Ayesha Kajee, sê Amerika se sanksies teen die Rwandese minister James Kabarebe is geregverdig. Die Amerikaanse Tesourie het dit ingestel weens sy steun vir die M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo. Sanksies is ook ingestel teen M23 se leier, Lawrence Kingston, en sy maatskappye. Kajee het aan Newzroom Afrika gesê dit onderstreep Rwanda se skending van die DRK se soewereiniteit, en sy verontagsaming van multi-lateralisme:
# Rugby: Die Junior Springbokke het hul reeks van twee wedstryde teen Georgië met ‘n harde stryd afgeskop en met 38-29 in die Avchala-stadion in Tbilisi geseëvier. Die SA Onder-20’s het ses drieë gedruk waarvan vier verdoel is, terwyl Georgië met vyf drieë geantwoord het, waarvan slegs twee verdoel is. Junior Bok-afrigter, Kevin Foote, sê hy is bemoedig deur dit wat hy in die wedstryd gesien het, maar daar kort steeds werk aan hul verdediging in losgemale. Die twee spanne draf Vrydag in die tweede en laaste byeenkoms teen mekaar uit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-314-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-937-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….