Nuus 09:00
BULLETIN 23 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 6-beurtkrag word ingestel tot verdere kennisgewing
# Corné Mulder is die VF Plus se nuwe leier
# En rugby: Die Bulle klop die Leeus oortuigend op Loftus
# Eskom het aangekondig fase 6-beurtkrag moes half-twee vannag ingestel word tot verdere kennisgewing nadat talle opwekkingseenhede onklaar geraak het by sy kragstasie in Camden, Mpumalanga. Dit volg nadat fase 3 gistermiddag ingestel is, wat Eskom toeskryf aan soortgelyke probleme by Majuba in dieselfde provinsie. Suid-Afrika het omtrent tien maande sonder kragonderbrekings gehad tot laat verlede maand, toe beurtkrag vir minder as twee dae ingestel is. Twintig dae van ononderbroke kragtoevoer het daarop gevolg.
Eskom sê egter sy somervooruitsig vir 1 September verlede jaar tot 31 Maart vanjaar bly onveranderd en dui op ‘n tydperk grootliks sonder beurtkrag weens ingrypende opwekkings-verbetering. Woordvoerder Daphne Mokoena sê dit word gesteun deur ‘n bestendige kragstelsel en voldoende noodvoorraad. Sy beklemtoon die vordering bevestig die welslae met die verbetering van opwekkings-vermoë en om betroubare voorraad voor die winter vol te hou:
# Die Vryheidsfront Plus het Corné Mulder onbetwis verkies tot sy nuwe leier nadat Pieter Groenewald homself nie verkiesbaar gestel het nie. Groenewald, wat tans die minister van Korrektiewe Dienste is, het teruggetree nadat hy die party nege jaar lank gelei het. Wouter Wessels van die VF Plus het ondersteuners verseker hoewel die leierskap verander het, bly die party se kernwaardes onveranderd. Groenewald sal nou fokus op sy minsteriële rol in die regering van nasionale eenheid.
# Die Stad Tshwane neem kennis van ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria wat die stad verbied om beslag te lê op voertuie van Wanatu en ander e-taxi-dienste sonder ‘n geldige permit. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê hulle sal ‘n regsmening inwin en met die Departement van Vervoer beraadslaag. Hy sê Tshwane bly toegewy aan die versekering van voldoening:
# En rugby: Die Bulle is nou net twee punte agter Glasgow Warriors in die derde plek op die Verenigde Rugbykampioenskaps-leer na ‘n oorwinning van 31-19 oor die Leeus op Loftus. Die Springbokvleuel Canan Moodie het twee van die tuisspan se vyf drieë aangeteken, terwyl Willie le Roux, Sebastian de Klerk en Marco van Staden ook gedruk het. David Kriel het twee verdoel. Die Leeus het geantwoord met drieë deur Henco van Wyk, PJ Botha en Richard Kriel. Leinster is steeds gemaklik boaan die punteleer, en die Leeus is twaalfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….