Nuus 08:00
BULLETIN 23 Februarie 8 vm
Goeiemôre Ek is……..
In die bulletin:
# Fase 6-beurtkrag word ingestel tot verdere kennisgewing
# Nog ses Israelse gyselaars word vrygelaat
# En krieket: ‘n Skitterende oorwinning vir Australië oor Engeland in Lahore
# Eskom het aangekondig fase 6-beurtkrag moes half-twee vannag ingestel word tot verdere kennisgewing nadat talle opwekkingseenhede onklaar geraak het by sy kragstasie in Camden, Mpumalanga. Dit volg nadat fase 3 gistermiddag ingestel is, wat Eskom toeskryf aan soortgelyke probleme by Majuba in dieselfde provinsie. Suid-Afrika het omtrent tien maande sonder kragonderbrekings gehad tot laat verlede maand, toe beurtkrag vir minder as twee dae ingestel is. Twintig dae van ononderbroke kragtoevoer het daarop gevolg.
Eskom sê egter sy somervooruitsig vir 1 September verlede jaar tot 31 Maart vanjaar bly onveranderd en dui op ‘n tydperk grootliks sonder beurtkrag weens ingrypende opwekkings-verbetering. Woordvoerder Daphne Mokoena sê dit word gesteun deur ‘n bestendige kragstelsel en voldoende noodvoorraad. Sy beklemtoon die vordering bevestig die welslae met die verbetering van opwekkings-vermoë en om betroubare voorraad voor die winter vol te hou:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê gyselaars wat deur Hamas vrygelaat is, het uit die dieptes van die hel in Gaza na hulle gesinne terurggekeer. Ses gyselaars is oorgehandig in ruil vir omtrent 600 Palestynse gevangenes. Netanyahu sê hulle kan nou met die genesing en herstel saam met hulle gesinne begin. Die liggaam van Shiri Bibas is vroeër terugbesorg ‘n dag nadat Israel gesê het ‘n liggaam wat Vrydag oorhandig is, was nie díe van die jong ma nie. Albei haar jong seuns het ook gesterf.
# Krieket: Australië het Engeland verstom deur ‘n reuse-wenteiken te bereik in hulle Kampioentrofee-wedstryd in Lahore, Pakistan. Engeland het 351 vir agt behaal, danksy Ben Duckett se 165 and Joe Root se 68. Australië se tweede paaltjie het op 27 geval, maar Josh Inglis se honderdtal en vyftigtalle deur Marnus Labuschagne en Alex Carey het hulle kolfbeurt gered. Hulle het die teiken gehaal met vyf paaltijes plat en 15 balle oor. ‘n Sprankelwedstryd word vandag verwag tussen Pakistan en Indië in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate.
# En ten slotte: Die president van Save South Africa, Sydney Monnakgotla, het vergader met studente van Wits in Johannesburg wat tans op ‘n eetstaking is oor finansiële uitsluiting. Monnakgotla beklemtoon die noodsaaklikheid dat universiteite nagraadse studente moet ondersteun. Hy meen baie van die gewone grade se waarde het afgeneem, wat gevorderde kwalifikasies noodsaaklik maak. Die beweging se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê die vergadering was gemik op die finalisering van fondsinsamelingspogings om die betrokke studente by te staan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….