Nuus 13:00
BULLETIN 22 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA kap die regering van nasionale eenheid oor 141-miljoen-rand se reisuitgawes in ses maande
# Die ANC Jeugliga dien strafregtelike klagtes in teen die eienaars van die Zanzou-nagklub
# En rugby: Die Blitsbokke vermorsel Ierland om onoorwonne te bly
# ActionSA beskuldig die regering van nasionale eenheid van roekelose besteding en onthul meer as 141-miljoen-rand is binne ses maande op reise uitgegee. Dit gebeur terwyl Suid-Afrikaners voor ‘n voorgestelde verhoging in BTW staan. Athol Trollip van ActionSA sê die party eis volle openbaarmaking van ministers en vra die afskaffing van adjunkministerposisies vir ‘n kleiner Kabinet. Hy onderneem om verkwistende besteding bloot te lê, en dring aan belastingbetalers behoort nie die koste te dra van regeringsoorbesteding nie.
# Die ANC Jeugliga in Tshwane het strafregtelike klagtes by die Brooklyn-polisiekantoor ingedien teen die eienaars van die Zanzou-nagklub. Dit volg na uitgelekte video’s wat ernstige geweld en uitbuiting by die nagkulb in Pretoria uitbeeld. Die polisie in Gauteng het ‘n 41-jarige Kongolese man in verband met die aanrandings aangekeer en soek aktief na nog sewe verdagtes. Die liga se streeksekretaris, Onkgopotse Thompson-Peete, vra geregtigheid:
# Die Landdroshof in Vanderbijlpark het borgtog geweier vir ‘n 32-jarige vrou wat beskuldig word dat sy haar twee-jarige seun aan onbekende individue verkoop het. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die aanklagte sluit in mensehandel, sameswering tot roof en die aflê van ‘n vals polisieverklaring. Die kind word steeds vermis. Mahanjana sê die hof het bevind die saak teen haar is sterk, en noem vals ontvoeringsbewerings en pogings om by die ondersoek in te meng:
# President Donald Trump het die voorsitter van die Gesamentlike Stafhoofde Charles Q. Brown ontslaan en hom vervang met John Dan “Razin” Caine. Brown was die tweede swartman wat as Amerika se mees senior generaal gedien het. Minute later het die minister van Verdediging, Pete Hegseth, die hoof van die Vloot en die eerste vrouelid van die Gesamentlike Stafhoofde, admiraal Lisa Franchetti, die trekpas gegee. Dit lyk of die stappe ‘n sterk sein wil uitstuur van ‘n administrasie wat diversiteit en insluitingspogings in die weermag en die wyer regering verbied het.
# En rugby: Die Springbok Sewes het dit twee uit twee gemaak met ‘n 28-7-oorwinning oor Ierland in hulle tweede wedstryd by die Vancouver Sewes. Drieë deur Ricardo Duartee en Sebastian Jobb, wat sy terugkeer gevier het met ‘n drie in die doodsnikke, het die Blitsbokke na die kwarteindstryd laat deurdring. Die span het Vrydagaand hulle veldtog afgeskop met ‘n indrukwekkende, naelskraapse 12-10 oorwinning oor hulle aartsvyande Nieu-Seeland. Die Blitsbokke moes hard werk vir hulle oorwinning en het staatgemaak op hulle verdediging in ‘n taai stryd waar hulle min balbesit gehad het.
Die Suid-Afrikaners kom nou vanaand net na half-tien te staan teen Australië in hulle laaste groepswedstryd voor die beker-kwarteindstryde vroeg Sondagoggend. Australië het Ierland in hulle aanvangswedstryd met 17-7 geklop, maar het met 7-17 verloor teen Nieu-Seeland in hulle tweede wedstryd van die toernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….