Nuus 08:00
BULLETIN 22 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die 28-miljoen-rand se Nasionale Gesondheidsversekering-advertensiebesteding is verkwistend te midde van die gesondheidsorgkrisis
# Die Trump-administrasie beëindig beskerming vir 500-duisend Haïtiane
# En rugby: Daar is baie op die spel vir die Bulle en die Leeus in vandag se Jukskei-derbie
# Die DA sê die regering het meer as 28-miljoen-rand op advertensies vir die Nasionale Gesondheidsversekering gemors terwyl openbare hospitale met personeeltekorte sukkel. Die party voer aan die fondse wat sedert April verlede jaar bestee is, moes aangewend word om twee-duisend vakante mediese poste te vul in plaas van om ‘n onrealistiese gesondheidsorgskema te bevorder. DA-woordvoerder Michele Clarke waarsku die dokter-tot-pasiënt-verhouding bly kritiek laag, wat baie mediese beroepslui dwing om werk in die buiteland te soek:
# Action Society ondersteun die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se oproep vir sterker vennootskappe tussen polisie en gemeenskappe om misdaad te bekamp. Dit volg nadat die jongste misdaadstatistieke, tussen 1 Oktober en 31 Desember verlede jaar, meer as ses-duisend-900 moorde en elf-duisend-800 verkragtings toon. Juanita du Preez van Action Society vra dat misdaadskuldigbevindings by misdaadstatistieke ingesluit word om die doeltreffendheid van die regstelsel beter te verstaan:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, verwelkom vandag amptelik die eerste groep toeriste wat via die nuut-bekendgestelde digitale Trusted Tour Operator Scheme op die Kaapstad Internasionale Lughawe aankom. Schreiber sal vergesel word deur die minister van Toerisme, Patricia de Lille, die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, en ander sleutel-belanghebbendes. Hierdie projek het ten doel om toerisme te bevorder en die digitale reisproses na Suid-Afrika te stroomlyn.
# Die Trump-administrasie het die beskerming beëindig vir ongeveer 500-duisend inwoners van Haïti, wat hulle teen Augustus kwesbaar maak vir deportasie. Die Departement van Binnelandse Veiligheid het aangekondig hy keer die hernuwing van die tydelike beskermde status van die voormalige president, Joe Biden, se administrasie om, wat immigrante teen deportasie beskerm. Kritici sê die stap is onmenslik, gegewe Haïti se onbestendigheid, bendegeweld en humanitêre krisis. Voorstanders van immigrasie, insluitend Tessa Petit van die Florida Immigrant Coalition, versoek die regering om dit te heroorweeg en om voorrang te gee aan menslikheid bo politiek.
# Rugby: Baie is vandag op die spel wanneer die Bulle en die Leeus mekaar in Pretoria pak in ‘n Jukskei-derbie in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Bulle, wat derde op die punteleer is, het ‘n oorwinning nodig om ‘n buffer te plaas tussen hulle en die Haaie, in die vierde plek. Die Bulle wil ook die gaping met Glasgow Warriors vernou, wat tweede is, om sy kans op ‘n plek onder die top-twee te behou. Afskop is vanmiddag 2-uur.
Intussen speel die Leeus vanmiddag met ‘n span wat net een verandering toon van die een wat die Stormers onlangs verslaan het. Afrigter Ivan van Rooyen het Jarod Cairns op flank gekies in die plek van die beseerde JC Pretorius. Hy is die Springbok Ruan Venter se flankmaat, met kaptein Francke Horn op agsteman. Die Leeus is tans in die twaalfde plek op die punteleer en die Bulle derde.
Op sy beurt het die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sy span behoorlik geskommel vir vanmiddag se Jukskei-derbie. Daar is sewe veranderings aan die span wat onlangs teen die Haaie verloor het. Een van die ongelukkiges is Sergeal Petersen, wat op regtervleuel deur Sebastian de Klerk vervang word, terwyl die Springbok Canan Moodie links skuif. Die Bok Willie le Roux, wat gewoonlik heelagter speel, behou die nommer tien-trui.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….