Nuus 07:00
BULLETIN 22 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi vra sterker optrede teen misdaad
# Sinn Fein van Ierland kanselleer sy tradisionele besoek aan die Withuis uit protes teen Trump se Gaza-voorstelle
# En, krieket, die Proteas spog met ‘n indrukwekkende oorwinning oor Afghanistan
# RISE Mzansi erken daar is ‘n afname in geweldsmisdaad, maar bly bekommerd oor die voortgesette hoë misdaadsyfers. Daar was tussen Oktober en Desember 2024 ses-duisend-953 moorde en 11-duisend-803 aangetekende verkragtings, wat neerkom op ‘n gemiddeld van 76 moorde en 129 verkragtings elke dag. Makashule Gana van die party vra die verdriedubbeling van skuldigbevindings in verkragtingsake en sê aandag moet gegee word aan maatskaplike bydraers tot misdaad:
In hulle kommentaar op die misdaadsyfers vra die algemene nywerheidsvakbond, Giwusa, vir sterker gemeenskapspolisiëring en dringende ekonomiese hervormings om die hoë vlakke van misdaad en geweld aan te spreek. Die vakbond verwelkom die daling in sommige misdaadstatistieke tussen Oktober en Desember verlede jaar, maar voer aan vlakke van misdaad bly hoog. Hy skryf dit toe aan ongelykheid, armoede en werkloosheid. Giwusa-woordvoerder Mametlwe Sebei vra vir groter gemeenskapsgeleide veiligheidsinisiatiewe en moedig werkers en inwoners aan om beheer oor hul sekuriteit te neem:
# Twee Suid-Afrikaanse burgers is vir dwelmhandel by OR Tambo Internasionale Lughawe gearresteer en die polisie het op kokaïen ter waarde van 7,5-miljoen-rand beslag gelê. SAPD-woordvoerder, Amanda van Wyk, het bevestig die verdagtes, ‘n man en ‘n vrou, het afsonderlik vanuit Brasilië aangekom. Sy het bevestig albei is van dwelmhandel aangekla:
# Ierland se grootste opposisieparty, Sinn Fein, het sy tradisionele besoek aan die Withuis op St Patrick’s-dag gekanselleer uit protes teen die voorstelle van die Amerikaanse president, Donald Trump, vir Gaza. Leier Mary Lou McDonald het in Dublin gesê sy kan nie Washington besoek terwyl daar ‘n dreigement van massa-uitsetting van die Palestynse volk bestaan nie. Trump het wêreldwye verontwaardiging ontketen toe hy voorgestel het Amerika neem beheer oor die Gaza-strook en skuif sy Palestynse inwoners permanent elders.
# En krieket: Suid-Afrika het ses agtereenvolgende eendag-wedstryde verloor voordat hulle Vrydag daarin geslaag het om Afghanistan met 107 lopies af te ransel in hulle Kampioenebekerkragmeting in Karachi. Die Proteas het die loot gewen en eerste gekolf, met Ryan Rickleton wat gesorg het vir ‘n hondertal en vyftigtalle deur Temba Bavuma, Aiden Markram en Rassie van der Dussen. Hulle het 315 vir ses aangeteken voordat hulle ontslae geraak het van Afghanistan vir 208 in 43 beurte en twee balle. Rahmat Shah het 90 geslaan vir Afghanistan, terwyl Kagiso Rabada drie paaltjies omgeklits het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….