Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Afrikaanse e-taxidiens WANATU is terug op die pad ná ‘n hofuitspraak
# AfriForum bevraagteken die polisie se jongste misdaadsyfers
# En tennis: Suid-Afrika sal in September gasheer wees vir Monaco in die Davisbeker
# Die Afrikaanse e-taxidiens, WANATU, het bedrywighede hervat nadat die Hooggeregshof in Pretoria ‘n dringende interdik toegestaan het wat die Metropolisie in Tshwane verhinder om sy voertuie te skut. AfriForum het die regshulp verskaf en die hof het in WANATU se guns beslis. Louis Boshoff van AfriForum sê die diens is vroeër hierdie maand opgeskort as gevolg van permit-kwessies:
# AfriForum is skepties oor die polisie se jongste misdaadstatistieke en bevraagteken of dit ‘n ware weerspieëling van misdaad in Suid-Afrika is. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het afnames in moord en veediefstal aangemeld, maar AfriForum beweer veiligheidstrukture op voetsoolvlak sien nie betekenisvolle veranderings nie. Die woordvoerder, Jacques Broodryk, sê swak rekordhouding en die wanbestuur van misdaad-data is kommerwekkend. Hy vra streeks-wetstoepassing-strategieë om misdaad te bekamp.
# Die Franse polisie gaan lukraak by skole begin soek na messe en ander wapens wat in sakke versteek is, in ‘n poging om die toename in gewelddadige aanvalle te bekamp. Die minister van Onderwys, Elisabeth Borne, sê onderwysers en skoolpersoneel is nie gemagtig om leerders te deursoek nie. Die nuwe beleid volg na ‘n toename in mesaanvalle by skole. Borne beywer haar ook vir ‘n reëlverandering waarvolgens leerders wat met messe of ander skerp voorwerpe betrap word, outomaties voor ‘n dissiplinêre raad moet verskyn.
# Tennis: Suid-Afrika gaan in September die gasheer wees vir Monaco in die Davisbeker se Wêreldgroep Twee-kragmeting. Die Suid-Afrikaanse kaptein, Pietie Norval, verwag ‘n taai stryd teen die Europese land, wat 51ste is op die wêreldranglys teenoor Suid-Afrika wat 58ste is. Die vorige ontmoeting tussen die twee lande in die mans-spankompetisie was in 2005, toe Monaco 4-1 gewen het. Vanjaar se wenner sal vroeg volgende jaar die geleentheid kry om in die uitspeelrondes te speel vir ‘n plek in Wêreldgroep Een.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-12-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-934-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Unisa, in vennootskap met die Gautengse regering, herdenk vandag Internasionale Moedertaaldag en beklemtoon hoe belangrik die uiteenlopendheid van tale is. Visekanselier Puleng LenkaBula sê die aanvaarding van inheemse tale bewaar kultuur en bevorder ekonomiese geleenthede in sektore soos toerisme en kleinhandel. Sy moedig Suid-Afrikaners aan om hul moedertaal te waardeer en beklemtoon dit verbeter indiensneembaarheid en die ekonomie, en ontsluit nuwe markte:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….