Goeie Nuus
BULLETIN 21 Februarie
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse musieksensasie, Tyla, het geskiedenis gemaak deur die eerste solokunstenaar uit Afrika te word wat ‘n miljard stromings op Spotify kry, met haar treffer, Water. Die liedjie het die eerste Afrikamusiek-toekenning op die Grammy’s gewen, asook die top-Afrobeats-liedjie op die Billboard-musiektoekennings en beste Afrobeats-video op die MTV Video-musiektoekennings. Spotify sê hierdie geskiedkundige oomblik bevestig Tyla se plek as een van die invloedrykste nuwe stemme in musiek en die toenemende wêreldwye invloed van Afrika se kunstenaars.
# TIME Magazine se jongste Vrou van die Jaar-lys bevat 13 bekroondes, insluitend die aktrise en vervaardiger Nicole Kidman, die Olimpiese gimnas Jordan Chiles, en die voorplantingsregte-aktivis Amanda Zurawski. Time se bestuurshoof, Jessica Sibley, sê die vroue toon visioenêre leierskap, wat wêreldwye verandering inspireer deur onwrikbare toewyding om ‘n inklusiewe en regverdige toekoms te bou. Ander op die lys sluit in die Vroue Nasionale Basketbalvereniging se waardevolste speler, A’ja Wilson, die bestuurshoof van Feeding America, Claire Babineaux-Fontenot, die sangeres Laufey en die aktrise Olivia Munn.
# Die vierde Marimba Xplosion-fees vind môre in die Guga S’thebe Kuns- en Kultuursentrum in Langa, Kaapstad plaas. Die tema is Ritme en Klanke van die Suide, en bring hulde aan Langa se ryke musiekgeskiedenis. Die kunstenaars sluit in Suid-Afrika se topmusikante soos Dumza Maswana, Lungiswa Plaatjies en Volley Nchabeleng. Die feesdirekteur, Banzi Tema, sê die gehoor sal meegevoer word na ‘n wêreld van opgewekte ritmes en melodieë wat hulle met hul erfenis sal verbind.
# Navorsers van die Universiteit Rhodes se Sentrum vir Radio-astronomie-tegnieke en -tegnologieë het ʼn projek begin om die MeerKAT-teleskoop se kortstondige radiobronne deur te gaan wat voorheen misgekyk is. MeerKAT se unieke kombinasie van sensitiwiteit en lugdekking stel dit in staat om die lugruim met ongekende spoed waar te neem. Woordvoerder Oleg Smirnov sê dis die ideale instrument om bronne te soek wat oor tyd verander, insluitend kortstondige bronne wat verskyn en skielik verdwyn. Die projek se samewerkers sluit die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie-sterrewag en die Universiteit van Oxford in.
# En ten slotte: Vandag is Internasionale Moedertaaldag, om die uiteenlopendheid van tale en veeltaligheid te bevorder. UNESCO het hierdie dag in 1999 afgekondig en beklemtoon die belangrikheid van taal in onderwys, kulturele bewaring en maatskaplike insluiting. Bykans 40-persent van tale word bedreig en pogings om inheemse en minderheidstale te beskerm, is dus uiters belangrik. Mpho Monareng van UNISA het aan die SABC gesê die tema behels inklusiwiteit in onderwys en digitale ruimtes:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….