Nuus 13:00
BULLETIN 21 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie sê moord, verkragtings en motorkapings het afgeneem
# ‘n Verdagte in die Zanzou-nagklubsaak is in Yeoville aangekeer
# En sokker: Pirates en Sundowns vermy mekaar in die CAF Kampioeneliga se kwarteindronde
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê die jongste misdaadstatistiek vir 1 Oktober tot 31 Desember verlede jaar toon ‘n afname in verskeie belangrike misdaadkategorieë. Hy sê vergeleke met dieselfde tydperk in 2023 het moordsake met 9,8-persent gedaal, verkragtings met 3,3-persent en poging tot seksuele misdrywe met 3,2-persent. Die moordsyfer was egter 6,2-persent hoër as in die vorige kwartaal. Mchunu het aan die media gesê motorkapings en rooftogte toon ook ‘n merkbare afname:
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die Zanzou-nagklub-aanrandingsaak. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê die man is in Yeoville aangekeer nadat die Johannesburgse Metropolisie opgemerk het hy lyk na een van die uitsmyters by die klub in Hatfield, Pretoria, wat hulle op videos op sosiale media gesien het. Agt mense word gesoek vir die misbehandeling, marteling en seksuele aanranding van besoekers aan die nagklub. Muridili sê die Metropolisie het die man voorgekeer:
# Inwoners van die Bo-Kaap in Kaapstad is gekant teen ‘n voorgestelde hotelontwikkeling naby die oudste moskee in Suid-Afrika, 0Auwal Masjid. Die ontwikkeling sal volgens plan minder as 20 meter van die moskee opgerig word. Die Bo-Kaapse Burgerlike en Belastingbetalersvereniging het kommer uitgespreek omdat die gebou se ontwerp bo die erfenis-geboue langsaan sal uittroon, parkeerruimte sal opneem, en die klank van die Moslem-oproep tot gebed sal demp. ʼn Versoekskrif om die moskee te bewaar, het meer as vierduisend handtekeninge gekry.
# Die Stad Tshwane sê onwettige grondbesetting bedreig ontwikkelingsprojekte en gemeenskapsbestendigheid. Die metro sê hy het afgekom op ‘n onwettige privaat helikopterlandingsplek op die vleiland agter die Waterkloof-tennisklub. Woordvoerder Lindela Mashigo sê geen amptelike toestemming is gegee vir die bou en gebruik van die heli-blad nie en regstappe sal volg:
# Sokker: Daar sal nie in April ‘n Suid-Afrikaanse derbie in die CAF Kampioeneliga se kwarteindronde wees nie. Orlando Pirates en Mamelodi Sundowns het mekaar vermy in die trekking in Katar. Pirates, wat bo-aan groep B geëindig het, kom te staan teen Mouloudia Alger van Algerië, terwyl Sundowns Esperance van Tunisië pak in ‘n herhaling van verlede jaar se halfeindstryd. Die verdedigende kampioen, Al Ahly van Egipte, meet kragte met Al Hilal van hulle buurland, Soedan, en Pyramids van Egipte speel teen Royal Armed Forces van Marokko.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-399-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-926-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….