Nuus 09:00
BULLETIN 21 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is vol vertroue die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA kan versterk word
# Die DA sê minister Nkabane moet rekenskap gee van die betogings op tersiêre kampusse
# En ‘n regter sê Trump kan voortgaan om federale werkers af te dank
# President Cyril Ramaphosa glo Suid-Afrika en Amerika kan steeds saamwerk en oplossings vind vir hulle verskille. Dit gebeur terwyl beide die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake , Marco Rubio, en die Minister van die Tesourie, Scott Bessent, besluit het om nie die G20 vergadering van buitelandse ministers by te woon wat tans in Johannesburg gehou word nie, maar eerder senior diplomate in hulle plek te stuur. Ramaphosa het by die vergadering Donderdag met die media gepraat en gesê Suid-Afrika is vasberade om ‘n goeie verhouding met Amerika te hê:
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Pamela Nkabane, om ʼn plan van aksie aan die Parlement voor te lê om studente se probleme aan te spreek. Studente van verskeie tersiêre kampusse, insluitend Wits en die Universiteit van Kaapstad, betoog omdat hulle weens historiese skuld nie mag registreer nie en ʼn gebrek aan verblyf. Matlhodi Maseko van die DA sê dringende hervormings is by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nodig:
# Die Vryheidsfront Plus in Ekurhuleni sê hy is bekommerd oor burgemeester Nkosindiphile Xhakaza se besluit om dié week die Green and Resilient Urban Shift Africa Forum in Kenia by te woon. Die metro staan voor aansienlike finansiële uitdagings, hoofsaaklik wat betref uitstaande skuld, beperkte likwiditeit en ‘n negatiewe kredietgraderingsvooruitsig. Jennifer Glover van VF Plus sê gegewe Ekurhuleni se huidige finansiële krisis, waaronder Eskom se dreigemente om die metro se kragvoorraad af te sny, moes die burgemeester die bywoning heroorweeg het:
# ‘n Amerikaanse regter het ‘n poging deur vakbonde verwerp om ‘n stokkie te steek voor president Donald Trump se massa ontslag van federale werkers. Die administrasie wil ontslae raak van proefwerkers, wat vir minder as ‘n jaar aangestel is, in wat lyk na verkwistende en bedrieglike regeringsbesteding. Regter Christopher Cooper sê die vakbonde moet hulle regsuitdagings neem na die federale arbeidsraad, wat geskille aanhoor tussen vanbonde en federale agentskappe. Onlangse data toon meer as 200-duisend werknemers het vir minder as ‘n jaar vir die federale regering gewerk.
# Gholf: Lucie Malchirand van Frankryk het met ʼn agt onder baansyfer 64 geopen en loop met vier houe voor in die Standard Bank Dames Ope by die Durbanville-gholfklub in Kaapstad. Die 22-jarige speler probeer haar eerste Sonskyn-damestoer-oorwinning opraap. Malchirand se naaste teenstander is die Switser Nobuhle Dlamini wat met ʼn ronde van vyf onder baansyfer 67 geopen het, gevolg deur die Suid-Afrikaner Cara Ford en Yslander, Gudrun Bjorgvinsdottir, op vier onder baansyfer 68. Die verdedigende kampioen, Gabrielle Venter van Suid-Afrika, het haar ronde afgesluit met ʼn telling van 73.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-204-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-930-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 76-dollar-7-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….