Nuus 07:00
BULLETIN 21 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wil skuldvolhoubaarheid vir lae-inkomstelande hê
# Die bedrywighede by drie grensposte word tydelik opgeskort weens oorstromings
# En die Amerikaanse Tesourie stel sanksies in teen leiers in Rwanda
# President Cyril Ramaphosa het die G20 gemaan om sy pogings te hernu om skuldvolhoubaarheid te bevorder, en veral vir Afrikalande. Die president het Donderdag by Nasrec in Johannesburg die openingsrede gelewer by die G20-vergadering vir ministers van Buitelandse Sake. Suid-Afrika bied die eerste vergadering vir ministers van Buitelandse Sake aan sedert hy in Desember die G20-presidentskap by Brasilië oorgeneem het. Ramaphosa sê meer as 3,3-miljard mense leef in lande waar rente op skuld meer is as die begroting vir onderwys en gesondheid:
# Die DA sê die toename in swangerskappe onder leerders, insluitend een-duisend-424 gevalle onder meisies tussen tien en 14 jaar, onthul ‘n statutêre verkragtingskrisis wat dringende optrede vereis. Volgens die Departement van Onderwys het meer as 67-duisend meisies tussen 15 en 19 jaar ook in die eerste drie kwartale van verlede jaar geboorte geskenk. DA-woordvoerder Angel Khanyile bepleit omvattende bewusmakingsveldtogte en beter ondersteuning vir swanger leerders om die siklus van armoede en skoolverlating te verbreek:
# Die Spesiale Tribunaal het die AngloGold Ashanti Hospitaal se huur- en opknappingskontrakte van meer as 600-miljoen-rand onregmatig, ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Dit volg nadat die Spesiale Ondersoekeenheid die kontrakte tersyde gestel en die geld herwin het. Die Gautengse Departemente van Gesondheid en Infrastruktuurontwikkeling het die kontrakte tydens die Covid-19-pandemie aan Western Deep Levels-hospitaal, voorheen in AngloGold Ashanti se besit, toegeken. Die ondersoekeenheid sê die verkrygingsproses was onregmatig en het nie voldoen het aan deursigtige en mededingende prosesse nie.
# Die Grensbestuursowerheid het bedrywighede by drie grensposte, Pontdrif, Makgobistad en Derdepoort, weens erge oorstromings tydelik opgeskort. Die grensposte is tussen Suid-Afrika en Botswana. ‘n Woordvoerder van die Grensbestuursowerheid, Mmemme Mogotsi, sê reisigers en kommersiële handelaars word aangeraai om by Ramatlabama, Kopfontein en Skilpadshek oor die grens te gaan. Sy sê hulle gaan voort om die situasie fyn dop te hou:
# Die Amerikaanse Tesourie het sanksies ingestel teen twee instellings en twee individue oor die geweld in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo. Dit sluit in Rwanda se minister vir Staats- en Streeksintegrasie, James Kabarebe. Die departement sê Kabarebe is sentraal tot Rwanda se ondersteuning vir die M23-militantegroep, wat verantwoordelik is vir menseregteskendings in die DRK. Sanksies is ook ingestel teen M23 en die Kongorivier-alliansie se senior lid, Lawrence Kanyuka Kingston, en twee maatskappye wat hy in Brittanje en Frankryk beheer. Die departement sê M23 se aggressie ondermyn die DRK se territoriale integriteit.
# Krieket: The Proteas speel vandag in Karatsji teen Afganistan in hulle eerste wedstryd van die Kampioenetrofee. Kenners glo die teenstanders kan moeilik wees om te klop aangesien die speeltoestande in Pakistan soortgelyk is aan dié in die buurland. Die kolfblad sal na verwagting dood wees, wat dit ‘n draaibouler-paradys kan maak. Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi is die enigste twee draaiboulers in Suid-Afrika se groep. Die Proteas het hulle laaste ses eendagwedstryde verloor en in elk van die laaste vier wedstryde meer as 300 lopies afgestaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-348-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-928-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….