Nuus 06:00
BULLETIN 21 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa versoek die G20 om geopolitieke spanning en ongelykheid aan te spreek
# Die Menseregtekommissie ondersoek Nota Baloyi se opmerkings oor wit mense
# En boks: Minister McKenzie laat ondersoek Boks SA se vermiste miljoene
# President Cyril Ramaphosa het G20-leiers aangemoedig om op oplossings vir geopolitieke spanning en toenemende ongelykheid te fokus. Hy het tydens die G20-vergadering van buitelandse ministers in Johannesburg gepraat en beklemtoon hierdie kwessies bedreig globale bestendigheid en vereis vaartbelynde oplossings. Ramaphosa vra ook meer finansiële ondersteuning vir ontwikkelende lande, veral vir rampherstel en billike energie-oordrag:
Ramaphosa het ook groen industrialisasie en belegging in kritieke minerale om volhoubare ontwikkeling aan te dryf, bepleit. Hy het in sy toespraak die leiers van die G20 versoek om pogings te ondersteun wat sal verseker die voordele van hierdie minerale word wêreldwyd gedeel, wat die Suidelike en Noordelike Halfrond bevoordeel. Ramaphosa sê belegging in groen nywerhede en minerale is die sleutel om klimaatsverandering aan te spreek en inklusiewe ekonomiese groei te dryf:
# Die aangeklaagde regter en parlementêre leier van die MK-party, John Hlophe, het die Konstitusionele Hof genader om teen ‘n uitspraak te appelleer wat hom verbied om aan die onderhoude van die Regterlike Dienskommissie deel te neem. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Hlophe verlede jaar verbied om aan die onderhoude deel te neem, nadat die DA en Corruption Watch die aanstelling van Hlophe deur die Nasionale Vergadering in die RDK betwis het. Hlophe se prokureur, Barnabas Xulu, voer aan dat die ampsklag teen hom as regter hom nie outomaties verbied om in die RDK te dien nie.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ondersoek uitlatings wat Nhlamulo ‘Nota’ Baloyi in ‘n aanlyn uitsending, The Hustlers Corner SA gemaak het nadat daar klagtes was oor Baloyi se mening oor wit mense. Die kommissie se woordvoerder, Wisani Baloyi, sê die SAMRK in Gauteng waarsku vryheid van uitdrukking is nie sonder beperkings nie en haatspraak word verbied. Hy sê die finale ondersoekverslag word vandag verwag:
# Die Withuis se nasionale sekerheidsraadgewer, Mike Waltz, sê Oekraïne moet sy kritiek teen die VSA inperk en beklemtoon dat die twee lande hul verskille kan versoen. Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het sy Amerikaanse eweknie Donald Trump beskuldig dat hy in ‘n disinformasieruimte leef wat deur Rusland geskep is. In reaksie het Trump Zelensky ‘n diktator genoem. Waltz sê Oekraïne word nie opsygeskuif in die vredesonderhandelinge met Rusland nie. Hy sê hulle is besig met pendel-diplomasie omdat dit in die verlede nie gewerk het om almal gelyktydig na die tafel te bring nie.
# Boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het ‘n ondersoek gelas na Boks Suid-Afrika se geldsake na die onthulling dat miljoene rand uit die sport se welwillendheidsfonds geplunder is. Dit is meer as vier dekades gelede gestig om oud-boksers by te staan wat finansieel sukkel. ’n Klein persentasie van plaaslike boksers se prysgeld is sedertdien afgetrek en aan die fonds oorbetaal, wat nou gebruik word om beseerde boksers te help. McKenzie wil hê die ondersoek moet onmiddellik begin en sê die oortreders moet tronk toe gaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-375-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-941-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….