Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verwelkom die G20 se ministers van Buitelandse Sake in Suid-Afrika
# Die polisie vernietig bykans 280-duisend vuurwapens in ses jaar
# En, sokker: ‘n Spaanse hof beboet Luis Rubiales oor ‘n gedwonge soen
# President Cyril Ramaphosa het die vergadering van die G20 se ministers van Buitelandse Sake amptelik geopen in Nasrec, Johannesburg. Dis die eerste vergadering onder Suid-Afrika se presidentskap van die groepering. Ramaphosa het in sy hoofrede die afgevaardigdes verwelkom en gesê hoe beduidend dit is dat die beraad die eerste keer in Afrika gehou word. Hy vra groter samewerking en eensgesindheid onder lande om internasionale uitdagings soos armoede, ongelykheid en konflik teen te werk:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, is op ‘n week-lange amptelike besoek aan die Midde-Ooste om beleggings te soek vir Suid-Afrikaanse infrastruktuurprojekte. Hy word vergesel deur Limpopo se LUR vir Openbare Werke, Paaie en Infrastruktuur, Ernest Rachoene, en ‘n amptenaar van eThekwini, Thembubuhle Ntuli. Gesprekke sal gevoer word met staatsamptenare, soewereine welvaartfondse en privaat beleggers in Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië en Katar. Die afvaardiging sal poog om nuwe befondsingsgeleenthede te ontsluit, ekonomiese groei te bevorder en werk te skep in Suid-Afrika se infrastruktuur-sektor.
# Die Vryheidsfront Plus beplan om die Onteieningswet alleen te betwis in die Konstitusionele Hof nadat ander opposisiepartye besluit het om nie daaraan deel te neem nie. Die VF Plus beweer partye soos die DA en die IVP loop die geleentheid mis om die wet gesamentlik uit te daag. Woordvoerder Wouter Wessels hou vol die bepaling oor onteiening sonder vergoeding is ongrondwetlik en hou gevare in vir eiendomsreg en beleggersvertroue:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die afgelope ses jaar bykans 280-duisend vuurwapens permanent uit sirkulasie verwyder nadat nog 16-duisend dié week vernietig is. Daar is met operasies soos Operasie Shanela beslag gelê op vuurwapens wat later vernietig is, insluitend vuurwapens wat met geweldsmisdade verbind word of vrywillig ingehandig is. Die meeste wapens is in die Wes-Kaap vernietig, gevolg deur Gauteng en KwaZulu-Natal. Die adjunk nasionale kommissaris, Tebello Mosikili, bevestig intussen die polisie se verbintenis om onwettige vuurwapens en ammunisie uit sirkulasie te verwyder.
# Sokker: ‘n Spaanse hof het die gewese hoof van die land se beheerliggaam, Luis Rubiales, skuldig bevind aan seksuele aanranding en met 208-duisend-rand beboet. Dit volg nadat hy die ster-voorspeler Jenni Hermoso sonder haar toestemming gesoen het nadat Spanje in 2023 die vroue-Wêreldbekertoernooi in Australië gewen het. Die hof het hom en drie medebeskuldigdes onskuldig bevind aan dwang nadat hulle Hermoso na bewering probeer oorreed het om die voorval te onderspeel. Aanklaers wou ‘n vonnis van twee-en-‘n-half-jaar hê – een jaar vir aanranding, en 18-maande vir dwang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-784-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-930-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….