Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie mense sterf tydens verwoestende swaar reën in KZN
# Rugby: Eddie Jones sê die toer van ‘n leeftyd lê vir Japan voor in November
# En die pous is steeds in die hospitaal met dubbele longontsteking
# Drie mense is dood tydens ‘n modderstorting in KwaMakhuta in Durban ná hewige reënbuie. Verskeie ander huise en paaie in die suide van KwaZulu-Natal is ook beskadig. Opruimingsoperasies is tans aan die gang terwyl die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor verdere reën. ALS Paramedics se woordvoerder, Garrith Jamieson, sê stortreën oornag het die modderstorting veroorsaak:
Die Stad Tshwane vra inwoners intussen om versigtig te wees aangesien gure weerstoestande in Gauteng voortduur. Die Weerdiens het vandag ‘n oranje vlak 6-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën oor die grootste dele van die provinsie. ‘n Woordvoerder van die Tshwane-nooddiens, Lindsay Mnguni, sê die gure weerstoestande sal moontlik lei tot probleme by laagwaterbrûe, oorstromings veroorsaak en belangrike roetes ontwrig:
# Die energiereguleerder Nersa het Eskom se kleinhandeltariefplan goedgekeur, wat vereis dat gebruikers van sonkrag-PV vaste heffings betaal. Om die uitwerking te versag, sal die heffings vanaf die eerste April oor drie jaar infaseer word. Eskom sal tariewe herstruktureer om by bygewerkte koste-aanspoorders te pas en vir ‘n mededingende mark voor te berei. Veranderinge sluit in hersiene tyd-van-gebruik-tariewe, vereenvoudigde munisipale tariewe, en die verwydering van stygende bloktariewe vir huisbewoners.
# Rugby: Hoofafrigter Eddie Jones beskryf Japan se besoek aan Europa in November as die toer van ‘n leeftyd. Die Asiatiese land speel in Dublin teen Ierland, in Cardiff teen Wallis en teen Georgië op ‘n veld wat nog aangekondig sal word. Japan speel vroeër ook tuiswedstryde teen Wallis en Australië. Jones sê Ierland is die bestendigste span in die wêreld en dis ‘n wonderlike ondervinding om Wallis op sy tuisveld te pak. Hy sê ook Georgië is verreweg die mees verbeterde span ter wêreld.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-290-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-950-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Die Vatikaan berig pous Franciskus se algehele toestand is bestendig en sy bloedtoetse dui ‘n effense verbetering aan, veral die inflammatoriese toetse. Die 88-jarige pous is verlede week in die Gemelli-hospitaal in Rome opgeneem met ‘n asemhalingsprobleem en is gediagnoseer met dubbele longontsteking. Dokters sê hy ly ook aan asmatiese brongitis. Die pous kan op sy eie asemgehaal, sonder die gebruik van ‘n ventilator, en uit die bed klim en op ‘n stoel sit en werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….