Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens is steeds besig om ‘n veldbrand in die omgewing van Wellington te bestry. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brandlyne bo Rooshoek en Oaklands-plase het deur die nag probleme veroorsaak, maar spanne kon skade aan eiendom voorkom. Sy sê by Foxenberg het grondeienaars gehelp om voorbrande te maak om te verhoed dat die brand na die plaasgrond versprei:
# Australiese owerhede moes 90 vals-moordwalvisse van kant maak ná ‘n massastranding op ‘n afgeleë strand in Tasmanië. ‘n Span kundiges op die toneel sê ingewikkelde omstandighede het dit onmoontlik gemaak om die diere te red. Hulle is deel van 157 walvisse wat naby Arthurrivier in die noordweste van die eiland gestrand het. Die ander het kort ná die stranding gevrek. Vals-moordwalvisse is tegnies een van die wêreld se grootste dolfynspesies en kan tot ses-meter lank word en 1,5-ton weeg.
# En ten slotte: Owerhede in een van die Filippyne se digsbevolkte stedelike gebiede bied ‘n kontantbeloning aan vir muskiete in ‘n poging om die verspreiding van knokkelkoors te keer. Dorpshoof Carlito Cernal van Barangay Addition Hills in sentraal-Manila het ‘n beloning van net minder as twee Amerikaanse sent vir elke vyf muskiete of larwes aangekondig. Cernal het die BBC vertel 21 mense het reeds die beloning geëis vir 700 muskiete en larwes wat ingebring is. Knokkelkoors is endemies aan tropiese lande, en uitbrekings kom gereeld voor in stedelike gebiede met swak sanitasie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….