Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Limpopo se uitvoerende raad gaan gesinne van gesneuwelde soldate tydens begrafnisse ondersteun
# Gholf: Kaapstad vestig homself as ‘n voorste bestemming
# En ‘n verlore kat stap duisend-500 kilometer in Amerika om met sy mense te herenig
# Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, sal die provinsiale uitvoerende raad lei om die naweek tydens hul begrafnisse ondersteuning te gee aan gesinne van die gesneuwelde lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Veertien soldate is verlede maand in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo dood in gevegte met M23-rebelle. Die provinsie se woordvoerder, Ndavhe Ramakuela, sê begrafnisdienste is in verskeie dorpe gereël:
# Cosatu verwelkom die uitstel van die begrotingsrede en noem dit ‘n oorwinning teen die voorgestelde verhoging van twee-persent in die belasting op toegevoegde waarde. Matthew Parks van Cosatu sê die vertraging vermy ‘n moontlike grondwetlike krisis, en versoek die regering om eerder belastingnakoming te verbeter as om BTW te verhoog. Hy benadruk gesprekke met regeringsamptenare sal voortgaan om ‘n billike begroting te verseker wat dienste befonds, groei aanwakker en kwesbare landsburgers beskerm:
# Transnet het ‘n plan aangekondig om sy bedrywighede by die Kaapstadse Houerterminaal op te skerp om die sterk wind teen te werk wat die besige vrugte-uitvoerseisoen ontwrig. Wind van tot 120-kilometer per uur het tot meer as 200-uur verlore laat gaan, en 12 vragskepe is voor anker gelaat. Transnet sê hy ontplooi werkers wat van diens af of op verlof is om die agterstand in verskepings in te haal. Die terminaal is tans in die besigste deel van die sagtevrugteseisoen wat van November tot Maart duur.
# Gholf: Die Stad Kaapstad sê hy is verheug om deelnemers aan die Dames-ope te verwelkom. Die toernooi het vanoggend afgeslaan op die Durbanvillese gholfklub waar meer as 100 beroeps- en amateur-spelers uit 30 lande saamtrek. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Cara Gorlei van Kaapstad sal probeer om haar eerste sege voor haar tuisskare te behaal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-178-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-953-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Kat het ‘n beproewing van twee maande in die Amerikaanse wildernis oorleef en amper een-duisend-500 kilometer gestap om met sy mense te herenig. Rayne Beau het weggeraak gedurende ‘n gesinsreis na die Yellowstone Nasionale Park. Sy eienaars het dadelik na hom begin soek, maar hoop verloor na weke sonder enige teken van hom. Hy is twee maande later gevind waar hy in Redding, Kalifornië, rondgedwaal het. ‘n Goeie Samaritaan het hom na ‘n diereskuiling geneem waar hy danksy sy mikroskyfie weer by sy mense uitgekom het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….