Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad se burgemeester loof die weerstand teen ‘n verhoging in BTW as ‘n oorwinning vir armes
# Sokker: Manchester United ervaar ‘n afname van 12-persent in inkomste weens Ten Hag se vertrek
# En Tyla word die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar op die voorblad van British Vogue
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die uitstel van die begrotingsrede verwelkom. Dit is na volgende maand uitgestel weens ‘n geskil in die regering van nasionale eenheid oor die voorgestelde verhoging van twee-persent in BTW. Hill-Lewis sê lae-inkomste huishoudings in Kaapstad en nasionaal kan nie belas word met ʼn BTW-styging wat die koste van voedsel en ander noodsaaklikhede hemelhoog opjaag nie:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, is bekommerd oor berigte van ‘n beweerde politieke komplot teen hom. Volgens Star het twee burgemeesterskomiteelede en ‘n amptenaar van Rand Water na bewering strategieë bespreek om die watertoevoer so lank as moontlik af te sluit. Morero se woordvoerder, Chris Vondo, sê die drie het na bewering voorgestel dat die wateronderbrekings beplan word om die burgemeester te laat lyk asof hy onbevoeg is om voldoende water aan inwoners te lewer.
# Australiese owerhede moes 90 vals-moordwalvisse van kant maak ná ‘n massastranding op ‘n afgeleë strand in Tasmanië. ‘n Span kundiges op die toneel sê ingewikkelde omstandighede het dit onmoontlik gemaak om die diere te red. Hulle is deel van 157 walvisse wat naby Arthurrivier, in die noordweste van die eiland, gestrand het. Die ander het kort ná die stranding gevrek. Vals-moordwalvisse is tegnies een van die wêreld se grootste dolfynspesies en kan tot ses-meter lank word en 1,5-ton weeg.
# Sokker: Manchester United se inkomste het in die vorige finansiële kwartaal met 12-persent gedaal, hoofsaaklik weens die vertrek van die hoofafrigter, Erik ten Hag. Die Engelse klub toon van Oktober tot Desember ‘n inkomste van 4,6-miljard-rand teenoor 5,3-miljard die vorige jaar. Ten Hag se afdanking het United glo 243-miljoen-rand gekos, terwyl daar ook ‘n afname van 42-persent in uitsaai-inkomste was. Kommersiële inkomste het wel met 18,5-persent gestyg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-879-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-954-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse musieksensasie Tyla maak steeds opslae reg oor die wêreld, en dié keer met haar verskyning op die voorblad van British Vogue se uitgawe van Maart. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat op die voorblad pryk. Dit beeld die 23-jarige uit in ‘n styfpassende pienk bandjielose bostuk en swart romp teen ‘n helderblou agtergrond. Tyla, wat ‘n Grammy gewen het vir haar enkelsnit-treffer Water en ‘n ooreenkoms met Nike gesluit het, sê sy het die ervaring terdeë geniet:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….