Nuus 09:00
BULLETIN 20 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitstel van die begroting het die rand laat verswak
# Cosatu verwelkom die herorganisasie van die ANC in Gauteng
# En die Wêreldgesondheidsorganisasie gaan voort met massa-polio-inentings in Gaza
# Die Rand het Woensdag waarde verloor nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sy begrotingsrede na 12 Maart uitgestel het. Dit volg ná ‘n geskil in die regering van nasionale eenheid oor die minister se voorstel dat belasting op toegevoegde waarde met twee-persent verhoog word. Die Rand het laat Woensdagmiddag met 0,9-persent verswak. Investec se hoofekonoom, Annabel Bishop, sê die mark se reaksie was aanvanklik matig en markte oorweeg nog die gevolge van die vertraging. Ou Mutual se welvaartstrateeg, Izak Odendaal, sê markte hou nie van negatiewe verrassings nie.
Intussen sê die landbou-organisasie TLU SA sê die uitstel van die begrotingsrede bedreig die land se ekonomie. Bennie van Zyl van TLU SA sê die vertraging stuur ‘n negatiewe boodskap aan plaaslike én internasionale beleggers dat Suid-Afrika nie ‘n duidelike rigting met sy fiskale beleid het nie:
# Cosatu in Gauteng het die hersamestelling van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee in die provinsie verwelkom. Die ANC het sy uitvoerende komitees in Gauteng en KwaZulu-Natal hersaamgestel ná swak vertonings in verlede jaar se algemene verkiesing. Cosatu in Gauteng se voorsitter, Amos Monyela, sê die medesameroepers se eerste taak is om die ANC te verenig vir streeks- en provinsiale konferensies, asook vir die plaaslike verkiesing in 2026:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy gaan die naweek voort met sy massa-polio-inentingsveldtog in Gaza. Twee vorige inentingsrondes in Gaza is suksesvol in September en Oktober verlede jaar uitgevoer en meer as 95 persent van sy teiken is bereik. Die keer gaan meer as 591-duisend kinders onder tien inentings ontvang. Die WGO sê die massa-terugkeer van mense na die noorde en suide van Gaza tydens die skietstaking tussen Israel en Hamas sal waarskynlik die verspreiding van polio vererger.
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Real Madrid, het hul plek onder die laaste 16 bespreek. Kylian Mbappé se driekuns het Madrid ʼn drie-een sege oor Manchester City verseker in hul tweede uitspeelwedstryd by die Bernabeu, om in totaal ʼn ses-drie oorwinning te behaal. Dis die vroegste wat City by die Kampioeneliga uitgeskakel word sedert 2012-2013. Paris St-Germain het Brest met sewe-nul en tien-nul in totaal verpletter om die 13de agtereenvolgende seisoen die ronde van 16 te haal. Borussia Dortmund en PSV Eindhoven is ook deur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-273-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-940-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….