Nuus 08:00
BULLETIN 20 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê die uitstel van die begroting dui op chaos in die regering
# President Ramaphosa sal vandag die G20-vergadering van ministers van Buitelandse Sake toespreek
# En die Europese Unie stem in tot nog sanksies teen Rusland
# Build One South Africa sê die feit dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, Woensdag sy begrotingsrede uitgestel het, dui op chaos in die regering van nasionale eenheid. Die begroting is die eerste keer sedert 1994 uitgestel nadat kabinetslede nie kon saamstem oor ‘n voorgestelde BTW-verhoging van twee-persent nie. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die regering het die ekonomie in gevaar gestel en deursigtigheid en duidelikheid is nou nodig:
Intussen sê professor Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool die regering van nasionale eenheid se ongekende besluit om die begroting tot 12 Maart uit te stel, sal beslis onvoorsiene gevolge vir Suid-Afrika se politieke ekonomie hê. Parsons sê die uitstel kan die moeite werd wees indien die regering saamstem oor toegewings en beter uitkomste vir die hele ekonomie:
# President Cyril Ramaphosa lewer vandag die openingsrede by die G20-vergadering vir ministers van Buitelandse Sake by die Nasrec-uitstalsentrum in Gauteng. Suid-Afrika het die G20-presidentskap op 1 Desember 2024 oorgeneem onder die tema: Solidariteit, Gelykheid, Volhoubaarheid. G20 Sous-Sherpa se ambassadeur, Xolisa Mabhongo, sê die land se G20-prioriteite is veerkrag teen rampe, volhoubare skuldvereffening, billike energieoordrag en noodsaaklike minerale vir inklusiewe groei:
# Die Europese Unie het ingestem tot ʼn 16de pakket sanksies teen Rusland weens sy volskaalse inval in Oekraïne. Dit sluit in beperkings op Russiese banke, bevriesing van bates en ʼn reisverbod na die EU vir 48 individue en 35 instellings, ʼn verbod op die invoer van Russiese aluminium en ʼn nuwe verbod op die uitvoer van chemikalieë en chroom. Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, verwelkom die sanksies en sê hulle is verbind om druk op die Kremlin vol te hou.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die kwarteindronde van die Katar Ope in Doha nadat hy die Italiaanse kwalifiseerder, Luca Nardi geklop het. Die Spanjaard kom nou teen die Tsjeg, Jiri Lehecka, te staan wat Fabian Marozsan van Hongarye verslaan het. Die Italianer Matteo Berrettini het die eerste keer sedert Oktober 2024 agtereenvolgende oorwinnings op die ATP-toer behaal en die Nederlander, Tallon Griekspoor getroef. Die Brit Jack Draper, Daniil Medvedev van Rusland en die Australiër Alex de Minaur is ook deur na die kwarteindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-023-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-943-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….