Nuus 07:00
BULLETIN 20 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die begroting sal vir burgers en beleggers werk
# Dawie Roodt sê die begrotingsvertraging is ‘n keerpunt vir die regering van nasionale eenheid
# En Trump sê Zelensky is ‘n diktator
# President Cyril Ramaphosa sê die kabinet se voortgesette beraadslaging oor die begroting sal uitkomste lewer wat kwesbare landsburgers beskerm en ‘n platform skep vir ekonomiese groei. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede is gister uitgestel nadat die regering van nasionale eenheid nie kon saamstem oor sekere sake nie. Dit sluit ʼn BTW-verhoging van twee-persent in. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die regering sal poog om seker te maak die begroting werk vir individue en beleggers:
Die ekonoom Dawie Roodt sê voorts die uitstel van die begrotingsrede is ongekend en ‘n aanduiding van erge verdeeldheid binne die regering van nasionale eenheid. Hy sê die ANC het probeer om belasting, insluitend BTW te verhoog, maar het sterk teenkanting van die DA ontvang. Roodt sê Suid-Afrikaners kan nie bekostig om meer belasting te betaal nie en vra drastiese besnoeiings aan staatsbesteding. Hy gee die ANC die skuld vir ekonomiese wanbestuur:
En die Vryheidsfront Plus sê intussen partye in die regering van nasionale eenheid het gewys hulle sal nie geboelie word nie. Die VF Plus glo die verhoging van BTW sal ʼn regstreekse en aansienlike uitwerking op die land se ekonomie hê. Hy voeg by beter fiskale dissipline is nodig om begrotingstekorte te hanteer, en nie belastingverhogings nie.
# Die Universiteit van die Witwatersrand sê hy doen wat hy kan om sukkelende studente te help, maar hy kan nie bekostig om historiese studenteskuld af te skryf nie. Die universiteit het Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys gesê onbetaalde studentefooie beloop 1,42-miljard-rand. Die universiteit laat slegs studente met studieskuld van minder as tien-duisend-rand toe om te registreer. Dié met meer skuld moet eers minstens 50-persent van die uitstaande bedrag betaal. Wits sê hulle kan nie bekostig om gratis onderrig te gee nie.
# Amerika se president Donald Trump het Oekraïne se president Volodymyr Zelensky ʼn diktator sonder verkiesings genoem. Dit volg nadat Zelensky vir Trump beskuldig het dat hy vals Russiese inligting herhaal, en sy bewerings verwerp het dat Oekraïne die oorlog begin het. Zelensky se termyn as president het verlede jaar in Mei verstryk, maar Oekraïne is sedert die Russiese inval in Februarie 2022 onder krygswet. Dit beteken presidentsverkiesings is opgeskort. Trump het in ʼn inskrywing op Truth Social gesê die enigste ding wat Zelensky goed doen, was om oudpresident Joe Biden te manipuleer.
# Rugby: Die losskakel Matthieu Jalibert is siek en loop Sondag Frankryk se Sesnasies-kragmeting met Italië in Rome mis. Hy was in die opdrafspan in die tweederonde-wedstryd teen Engeland nadat Romain Ntamack geskors is, maar het nie beïndruk nie en is halfpad deur die tweede helfte vervang. Die heelagter Thomas Ramos het op losskakel geoefen. Hoofafrigter Fabian Galthie kondig sy span môreoggend aan. Frankryk het Wallis in die eerste ronde oortuigend verslaan voor hulle in die volgende ronde teen Engeland verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-654-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-935-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….