Nuus 06:00
BULLETIN 20 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana beskuldig ministers dat hulle die BTW-verhogingsplanne uitlek
# ‘n Senior Hamas-amptenaar sê hulle sal alle oorblywende gyselaars in een groep vrylaat
# En rugby: 26 spelers is uitgenooi na die eerste virtuele Springbok-belyningskamp van die jaar
# Die minster van Finansies, Enoch Godongwana, het sommige ministers daarvan beskuldig dat hulle planne vir ‘n verhoging in BTW aan die media gelek het. Hy sê dit ontbloot onmin binne die kabinet, en kritiseer die Vryheidsfront Plus wat beweer hy het nie van die voorstel geweet nie. Godongwana het aan die media gesê die regering van nasionale eenheid beywer hom vir ‘n ooreenkoms voor die begrotingsrede op 12 Maart gelewer word:
Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het intussen bewerings verwerp dat die verskille oor die begroting ‘n stryd tussen die DA en ANC is. Sy sê die besluit om die begroting tot 12 Maart uit te stel, is deur die hele kabinet geneem, nie deur individuele partye nie. Ntshavheni het aan die media gesê die fokus is op die bestuur van die ekonomie, nie op partypolitiek nie, en dat selfs ANC-ministers verskillende menings het oor die voorgestelde BTW-verhogings:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid berig watertoevoer by Kopanong-hospitaal is herstel. Woordvoerder, Motalatale Modiba, sê 95-persent van die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal het elektrisiteit, maar herstelwerk gaan voort in dele wat geraak word. Suid-Rand Hospitaal het kragprobleme weens interne foute wat die teater- en X-straalafdelings raak. Hy bevestig noodgevalle word herlei terwyl owerhede die situasie monitor:
# Die GOOD-party in die Oos-Kaap sê die erge onderbesteding van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit kan hom 262-miljoen-rand in befondsing van toelae kos. Dit volg na verlede jaar se verlies van 430-miljoen-rand weens onderbesteding. Volgens die party beplan die Nasionale Tesourie om betalings vir projekte soos waterinfrastruktuur, behuising en die opgradering van informele nedersettings te staak. Woordvoerder Lawrence Troon sê die munisipaliteit het tot Vrydag om te verduidelik hoekom die befondsing nie gestaak moet word nie. Troon blameer die ANC-geleide koalisie dat hulle inwoners in die steek laat.
# ‘n Senior Hamas-beampte sê hulle is bereid om die oorblywende gyselaars gelyktydig vry te laat gedurende die tweede fase van die Gaza-wapenstilstand. Taher al-Nunu van die militantegroep sê hulle het die bemiddelaars laat weet dat Hamas gereed is om alle gyselaars gelyktydig te bevry eerder as in aparte groepe soos wat in die eerste fase gebeur. Hy het nie gesê hoeveel gyselaars Hamas of ander groepe nog aanhou nie. Israel en Hamas is tans besig met die inwerkingstelling van die eerste fase van die wapenstilstand.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ‘n groep van 26 spelers genooi om volgende maand aan die eerste persoonlike kamp en virtuele belyningskamp deel te neem. Die groep bestaan uit 20 oorsese spelers, insluitend Pieter-Steph du Toit in Japan en Handrè Pollard in Engeland, asook ses Suid-Afrikaanse spelers. Stormer-senter Jonathan Roche is vir die eerste keer uitgenooi na ‘n belyningskamp. Benewens dié groep is 56 spelers ook na die persoonlike kamp genooi, wat as voorbereiding vir die seisoen sal dien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-567-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-934-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….