Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana bevestig die begroting word op 12 Maart ter tafel gelê na bykomende kabinetsonderhandelings
# Macron bied ‘n vergadering aan oor Oekraïne nadat Trump Europa skok
# En tennis: ‘n Man word verbied van alle beroeps-vrouetoernooie na ‘n voorval met Emma Raducanu
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het bevestig 2025 se begroting word op 12 Maart ter tafel gelê na bykomende onderhandelings in die kabinet. Die begroting sou aanvanklik vandag gelewer word, maar die regering het besluit om dit uit te stel om tyd toe te laat vir verdere onderhandelings. Godongwana het aan die media gesê die uitstel is ooreenkomstig die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, wat voorsiening maak vir ‘n uitgestelde voorlegging in buitengewone omstandighede:
ATM se leier, Vuyo Zungula, kritiseer die uitstel en noem dit ongekend en ‘n teken van onbevoegdheid binne die regering van nasionale eenheid. Zungula het op ‘n nuuskonferensie die besluit veroordeel en waarsku die instel van beleide sal ly as gevolg van voortdurende meningsverskille. Hy het die regering versoek om interne konflik opsy te sit en Suid-Afrikaners voorop te stel te midde van ekonomiese uitdagings:
# ‘n Studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid het aan die lig gebring ondoeltreffendheid in Suid-Afrika se logistieke stelsel het die sitrusbedryf in die 2024-seisoen 5,2-miljard-rand gekos. Die verliese spruit uit stadige hawebedrywighede, swak infrastruktuur en verskepingsvertragings, wat die bedryf se groei en werksgeleenthede in gevaar stel. Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika vra dringende openbare-privaat vennootskappe om die bedryf se toekoms te verseker en uitvoere te beskerm.
# Die Franse president, Emmanuel Macron, bied vandag ‘n nuwe vergadering oor Oekraïne aan in ‘n poging om Europese reaksie te koördineer op wat hy ‘n bestaansbedreiging van Rusland noem ná ‘n skokkende beleidsverskuiwing in Washington. Volgens die Franse presidensie beplan Macron gesprekke met ongeveer 15 regeringshoofde, die meeste aanlyn. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër die Europese Unie verstom toe hy aandui hy is gereed om diplomasie met sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, te hervat terwyl die Russiese oorlog teen Oekraïne reeds drie jaar woed.
# Tennis: ‘n Man is verbied om beroeps-vrouetoernooie by te woon na ‘n voorval met die Britse speler Emma Raducanu tydens die Dubaise Kampioenskap. Die 22-jarige Raducanu het in trane uitgebars gedurende haar wedstryd teen die Tsjeg Karolina Muchova toe sy die man op die pawiljoen gesien het. Hy het haar vroeër op ‘n onbetaamlike manier genader. Die beheerliggaam, die WTA, sê die man is by alle toernooie verbied terwyl die erns van die bedreiging bepaal word. Raducanu het in 2022 ‘n weerhoudingsbevel gekry teen ‘n man wat haar bekruip het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-192-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-937-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….