Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die begrotingsrede word uitgestel
# Ramaphosa belê ‘n noodkabinetsvergadering na die DA dreig om die begroting te verwerp
# En gholf: Meer as 150 spelers slaan af in die SA Ope in Durban
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede is uitgestel ná ernstige onenigheid in die kabinet oor ‘n voorgestelde BTW-verhoging.
President Cyril Ramaphosa het intussen ‘n noodkabinetsvergadering belê omdat die DA dreig om die begroting te verwerp indien BTW verhoog word. Die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, sê hulle sal nie die begroting met die voorgestelde belastingverhogings ondersteun nie, wat kan verhinder dit word goedgekeur. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gaan na verwagting ‘n verhoging in BTW aankondig as deel van pogings om Suid-Afrika se fiskale uitdagings aan te pak, insluitend toenemende skuld en verhoogde druk met besteding.
# Die ANC het sy leierskapstrukture in Gauteng en KwaZulu-Natal hersaamgestel na ‘n vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee. Die besluit volg terwyl die party gereed maak vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Die hersamestelling sluit ervare leiers en veterane in en vorm deel van die party se strategie vir vernuwing. ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê gesprekke word voortgesit met provinsiale en streekstrukture, met ‘n fokus op politieke opvoeding, inwerkingtreding van die manifes en herverbinding met gemeenskappe:
# Die Suid-Afrikaanse Weermag het bevestig 13 van die soldate wat in die Demokratiese Republiek die Kongo gesneuwel het, sal vanaf Saterdag tot die eerste Maart met volle militêre eerbewys begrawe word. Die 14de soldaat is reeds in Limpopo ter ruste gelê nadat die lede se oorskot verlede week aan die families oorhandig is. Die 14 soldate het verlede maand in botsings met M23-rebelle in die ooste van die DRK gesterf.
# Europese Unie-lande het op nuwe sanksies teen Rusland besluit terwyl die groepering die druk probeer volhou te midde van Amerikaanse samesprekings met Rusland. Die omvattende pakket sluit ‘n verbod op die invoer van Russiese aluminium in en word Maandag formeel deur die EU se ministers van Buitelandse Sake aanvaar op die derde herdenking van die Russiese inval in Oekraïne. Die EU se 16de ronde sanksies volg terwyl Trump Kiëf en sy Europese ondersteuners uitsluit om saam met Moskou die oorlog te probeer beëindig.
# Gholf: Die 114de Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap vind van 27 Februarie tot 2 Maart op die Durbanse buiteklub plaas. Honderd-56 plaaslike en internasionale spelers sal meeding om prysgeld van 27-miljoen-rand. Die Sonskyntoer se bemarkingsbestuurder, Mcebisi Mtshali, het aan die SABC gesê daar is groot belangstelling in die toernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-293-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-945-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….