Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Een van Suid-Afrika se mees gevierde komediante, Stuart Taylor, is volgende maand in die Baxter-teater in Kaapstad te sien met sy splinternuwe eenmankomedie, Odd Man Out. Dit word beskryf as ‘n opruiende, selfspottende reis deur die hoogtepunte en laagtepunte van Taylor se lewe as ‘n pa in sy 40’s. Die komediant sê die doel is om daardie oomblikke waarmee almal kan assosieer, te belig, en aan te toon dat almal met dieselfde chaos te doen kry, net op verskillende maniere. Die vertonings duur van 4 tot 8 Maart.
# Twee vooraanstaande navorsers aan die Universiteit van Fort Hare is onder Suid-Afrika se top 100 wetenskaplikes, wat in die 2025 AD Scientific Index World Scientist and University-ranglys opgeneem is. Meer as 2,4-miljoen wetenskaplikes van 221 lande by meer as 24-duisend instellings word op die ranglys geplaas. Meer as 19-duisend wetenskaplikes van 74 instellings in Suid-Afrika se name verskyn op die aanwyser. Professor Anthony Afolayan is 43ste op die ranglys terwyl professor Anthony Okoh 58ste is. Die universiteit sê dié merkwaardige prestasie benadruk hulle voortgesette bydraes tot die wetenskap en akademie.
# Die Durban-Noordse gemeenskap het boeke aan 51 vroeë kinderontwikkelingsentrums geskenk. Die sentrums, wat ook deur die Domino-stigting gesteun word, het ‘n reeks storieboeke ontvang om kinders se geletterdheid te bevorder en hulle verbeelding aan te wakker. Die boeke help om ‘n sterk leeskultuur te skep, geletterdheidsvaardighede te verbeter en die probleem op te los van 43-persent van Suid-Afrikaanse huishoudings wat nie boeke het nie. Die stigting vra ook nog skenkings van boeke, boekrakke en matte om die sentrums se leeshoekies te verbeter.
# Die gewese Amerikaanse visepresident, Kamala Harris, gaan die voorsitterstoekenning ontvang op die 56ste NAACP Image-toekennings wat Saterdag in Pasadena gehou word. Die toekenning vereer mense wat uitblink in openbare diens en hulle unieke platforms gebruik om betekenisvolle verandering te bevorder. Die voorsitter van die toekennings se nasionale raad van direkteure, Leon Russell, sê Harris is ‘n kampvegter vir verandering, gedrewe deur ʼn passie om ʼn beter, gelyker toekoms te skep. Ander bekendes wat al vereer is, sluit in Barack Obama en Samuel L Jackson.
# En ten slotte: Die hertogin van Sussex, Meghan Markle, het haar leefstylhandelsmerk, American Riviera Orchard, opnuut bekend gestel as As Ever. Die produkte strek van juweliersware, troeteldierkos en joga-toerusting, tot huisversiering en kookboeke. Haar Netflix-program, With Love, Meghan, wat volgens die aanlyn diens die leefstyl-genre herverbeel, word oor twee weke van stapel gestuur. Markle sê As Ever is ‘n handelsmerk wat sy geskep het en sy het haar hart daarop uitgestort:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….