Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Februarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Blitsbokke het Sebastian Jobb en Tristan Leyds die naweek terug vir die Vancouver Sewes-toernooi. Jobb is ‘n 25-jarige Junior Springbok en het die afgelope 24 maande ʼn rits beserings opgedoen nadat hy in 2023 sy buiging vir die Blitsbokke gemaak het. Die spelskepper Leyds is gretig om weer te speel nadat hy die vorige toernooi in Perth weens ʼn besering misgeloop het.
# Vervolgens, krieket: ‘n Gewese Pakistanse speler en administrateur sê die Kampioenetrofee wat vandag begin het, gaan oor meer as net die sport vir die land. Ramiz Raja glo dit sal Pakistan se reputasie ‘n reuse-hupstoot gee as hy sy eerste groot toernooi in byna drie dekades met welslae kan aanbied. Hy sê dit was nie maklik om die wêreld te oortuig die land is veilig na die terreuraanval op ‘n besoekende span se bus in 2009 nie. Sekerheidsmaatreëls is opgeskerp, veral in die gasheerstede Karatsji, Lahore en Rawalpindi.
# Nou motorsport: Al tien Formule Een-spanne en hul 20 renjaers het hul spandrag vir 2025 bekend gestel tydens ʼn geskiedkundige geleentheid in die O2-arena in Londen om die sport se 75ste herdenking te vier. Elke span het geleentheid gekry om hul nuwe spandrag en bestuurders aan die gehoor voor te stel. Daar is vanjaar ses nuwelinge op die baan: Kimi Antonelli, Isack Hadjar, Jack Doohan, Gabriel Bortoleto, Liam Lawson en Ollie Bearman – die meeste sedert 2021. Toetse begin volgende Woensdag op die Bahreinse internasionale renbaan.
# Tennisnuus: Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport sê die saak van die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is ‘n miljoen-myl verwyder van opkikkergebruik. Die Italianer het ‘n skorsing van drie maande aanvaar in ruil dat Wada sy appèlaansoek staak teen die Internasionale Tennisintegriteits-agentskap se besluit om hom nie te skors oor verlede jaar se twee positiewe opkikkertoetse nie. Wada sê hy het wetenskaplike bevestiging gekry dat dit nie ‘n geval van opsetlike opkikkergebruik was nie, en ontken enige spesiale behandeling. Sinner mag op 4 Mei terugkeer na mededingende tennis.
# Ons sluit af met nuus oor die Olimpiese Spele: Brisbane in Australië, wat die Spele in 2032 gaan aanbied, gaan volgende maand aankondig waar die hoofstadion sal wees. Politieke onenigheid het voortgesette onsekerheid veroorsaak oor die finale planne. Queensland se premier, David Crisafulli, het daarom ‘n paneel aangestel om ‘n tweede hersiening van die keuses te doen. Die bevindings en die regering se siening sal op 25 Maart bekend gemaak word. Crisafulli se voorganger, Steven Miles, het vroeër die opknapping van die Gabba-krieketveld en ‘n voorgestelde nuwe stadion in Victoriapark verwerp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….