Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gebeds- en herdenkingswandeling word gehou op die dag ‘n jaar na Joslin Smith se verdwyning
# Die Gautengse Drankraad trek die Zanzou-nagklub in Pretoria se lisensie terug
# En rugby: Die Wallabies sluit ‘n veeleisende jaar af met toetse teen Engeland, Italië, Ierland en Frankryk
# Die gemeenskap van Diazville in Saldanha in die Wes-Kaap hou vandag ‘n bid- en gedenkswandeling ter herdenking van Joslin Smith, wat ‘n jaar gelede verdwyn het. Sy was ses-jaar oud toe sy vermis geraak het terwyl sy in die sorg van haar ma se vriend was. Haar ma, Kelly Smith, haar vriend, Jacquin Appollis, en Steveno van Rhyn staan tereg op aanklagte van ontvoering en kinderhandel. Die drie verskyn volgende Vrydag weer in die Wes-Kaapse Hooggeregshof vir ‘n voorverhoor.
# Die Gautengse Drankraad het die gewilde nagklub Zanzou in Pretoria se dranklisensie met onmiddellike ingang teruggetrek. Dit volg ná video’s waarop besoekers by die nagklub mishandel, gemartel en seksueel aangerand word. Sommige slagoffers het strafregtelike sake by die polisie aanhangig gemaak en die polisie soek na minstens agt verdagtes. Die raad sê hierdie voorvalle wek ernstige kommer oor veiligheid en wettige bedrywighede op die perseel. Hy voeg by Zanzou se lisensie sal opgeskort bly tot die amptelike ondersoek afgehandel is.
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die verhoging van 2,9-persent vir pensioentrekkers ten sterkste veroordeel. Die Pensioenfonds vir Staatsamptenare sê die verhoging is gegrond op die inflasiekoers van 2,9-persent vir die 12 maande wat op 30 November 2024 geëindig het. Dit is ook 100-persent in ooreenstemming met November se jaarlikse Verbruikersprys-aanwyser. Claude Naiker van die vereniging sê die verhoging is heeltemal onvoldoende te midde van die stygende lewenskoste:
# Rugby: Australië sluit sy jaareindtoer in die Noordelike Halfrond af teen Engeland, Italië, Ierland en Frankryk. Joe Schmidt se span pak Engeland op 1 November op Twickenham, en speel ‘n week later die eerste keer in drie jaar teen Italië. Dan kom hulle die 15de in Dublin teen Ierland te staan voor hulle die toer op 22 November afsluit teen Frankryk. Rugby Australië se uitvoerende hoof, Phil Waugh, sê die Wallabies sien uit daarna om met die beste in die Noordelike Halfrond kragte te meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-770-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-937-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Tshwane se nooddienste sê hulle gaan voort om die gure weerstoestande te monitor en waarsku gemeenskappe om waaksaam te bly. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n oranje vlak 5-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën oor die grootste dele van Gauteng. Die nooddienste se woordvoerder, Lindsay Mnguni, sê die gure weer sal na verwagting tot later vandag voortduur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….