Nuus 09:00
BULLETIN 19 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê neoliberalisme en begrotingsbesnoeiings gaan nie werk skep nie
# Die DA eis aanspreeklikheid vir die finansiële krisis in Maluti-a-Phofung
# En die voormalige Brasiliaanse president Jair Bolsonaro word aangekla
# Die vakbondfederasie, Saftu, sê die regering van nasionale eenheid staan steeds neo-liberale ekonomiese beleide voor wat volgens hulle werkskepping ondermyn. Dit terwyl die uitgebreide werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van 2024 onveranderd op 41,9-persent bly. Saftu se woordvoerder, Newton Masuku, sê in aanloop tot die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede vandag, eis hulle ‘n onmiddellike omkeer van besnoeiingsmaatreëls, en die aanvaarding van ʼn dapper, werker-gesentreerde ekonomiese program:
En die Vereniging vir Staatsamptenare sê hy verwag Godongwana, gaan ‘n begroting voorlê wat ekonomiese groei, werksekerheid en die versterking van openbare dienste vooropstel. Die vereniging verteenwoordig meer as 240-duisend staatsamptenare. Claude Naiker van die vereniging sê die regering moet na ‘n uitgebreide fiskale beleid beweeg wat groei en ontwikkeling sal bevorder. Hy voeg by dat meer beleggings in openbare infrastruktuur, gesondheidsorg en onderwys noodsaaklik is vir verbeterde dienslewering en werkskepping:
# Die DA in die Vrystaat vra aanspreeklikheid nadat die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit die 2023/2024-boekjaar met ʼn tekort van een-miljard-rand afgesluit het. Inkomste was die afgelope jaar 1,73-miljard-rand terwyl uitgawes op 2,82-miljard-rand staan. ʼn DA-woordvoerder, Eleanor Quinta, sê die finansiële wanbestuur raak inwoners regstreeks want hulle gaan steeds gebuk onder watertekorte, onbestendige elektrisiteitsvoorsiening en verswakkende munisipale dienste:
# Die voormalige Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro, is amptelik aangekla dat hy ʼn staatsgreep beplan het om aan bewind te bly nadat hy in die 2022-verkiesing teen president Luiz Inacio Lula da Silva verloor het. Drie-en-dertig ander mense was by die sameswering betrokke. Dit sluit Bolsonaro se visepresidentskandidaat, Walter Braga Netto, en afgetrede of dienende militêre personeel in. Bolsonaro ontken dat hy iets verkeerd gedoen het en sê hy is die slagoffer van politieke vervolging. Kenners sê hy kan tussen 38 en 43 jaar agter tralies deurbring indien hy skuldig bevind word.
# Sokker: Bayern-Munich het in ekstra tyd die telling gelykop teen Celtic gemaak om na die laaste 16 van die Kampioeneliga deur te dring. Hulle was nog twee-een agter na die eerste been van verlede week se uitspeelronde, maar ‘n doel deur Nicolas Kuhn het aan Celtic ‘n voorsprong in die tweede helfte gegee in gisteraand se wedstryd. ‘n Doel deur Alphonso Davies in ekstra tyd het egter die oorwinning aan Vincent Kompany se span besorg met ‘n doelgemiddeld van drie-twee. Bayern kom nou of teen Atletico Madrid of Bayer Leverkusen te staan. Benfica Club Brugge en Feyenoord is ook deur na die laaste 16.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-543-dollar-XX-sent. Die prys van goud is twee-duisend-926-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….