Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Februarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio het besluit om nie die vergadering van G20 ministers van Buitelandse Sake in Suid-Afrika by te woon nie. Hy sal te midde van groeiende spanning tussen die twee lande verteenwoordig word deur sy adjunkhoof van sendings by die Amerikaanse ambassade, Dana Brown.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die vermoorde imam Moegsien Hendricks het glo in die lig van die talle doodsdreigemente wat hy ontvang het vir sy familie gesê hulle moet “laaglê” as daar iets met hom gebeur. Sy begrafnis is intussen ook in die geheim gehou.
Dan skryf die webblad munisipaliteite in die Vrystaat sal voortaan ingevolge ‘n ooreenkoms met Eskom enige geld wat aan die kragvoorsiener verskuldig is in ‘n afsonderlike rekening hou totdat dit oorbetaal word.
En laastens word berig ‘n mini-tornado het gistermiddag grootskaalse skade in Pretoria-Noord en Montana aangerig. Bome is ontwortel en dakke afgeruk.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula word deur ANC-lede in binnekringe gekritiseer dat hy die ANC se vertoning by die stembus verlede jaar gebruik om die party se Gautengse voorsitter, Panyaza Lesufi, te isoleer voor die ANC se 56ste verkiesingskonferensie in 2027.
En tweedens word berig China sal dopgehou word by die G20-konferensie vir ministers van Buitelandse Sake aangesien die land ‘n groter rol begin speel om internasionale beleid te bepaal.
# Sowetan:
Berig die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa sê die kragonderbrekings in townships is nie rassisties of teen armes gerig nie. Hy sê onwettige verbindings en apartheidsera-beplanning moet die skuld kry. Intussen sê die Departement van Gesondheid daar is ‘n verband tussen die gebrek aan krag en lewensverlies in die geaffekteerde gebiede.
# En The Citizen:
Skryf die MK-party het ‘n plan voorgestel waarvolgens afgetrede ingenieurs en bestuurders in ‘n span saamgetrek moet word om sukkelende munisipaliteite te help.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met Moegsien Hendricks. Dan is daar ‘n berig oor ‘n slaggat in Kakamas waarin varke baljaar en laastens skryf die koerant ‘n Kanadese vrou se hande is na bewering in die Karibiese Eilande afgebyt toe sy ‘n foto van ‘n bulhaai wou neem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n onafhanklike studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid het bevind dat ondoeltreffende spoor- en hawelogistiek die sitrusbedryf in 2024 alleen meer as vyf-miljard-rand gekos het.
En tweedens skryf die koerant die G20-beraad wat tans in Nelson Mandelabaai aangebied word, het ‘n nuwe inisiatief teen wêreldwye jeugwerkloosheid aangekondig met spesifieke teikens vir 2030.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die jongste verwikkelings in die tekort aan medikasie in KwaZulu-Natal.
En berig daar heers kommer in Pietermaritzburg nadat gevalle van hondstolheid aangemeld is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die inwoners van Gobabis, Witvlei, Gochas, Osona Village en die Roshkor-woonbuurt kan hoër elektrisiteitskoste in die gesig staar weens die versuim van hul plaaslike owerhede om die beskikbare tariefterugbetalings te eis.
En tweedens skryf die koerant aansienlike damvlakstygings is die afgelope week in Namibië aangeteken.