Nuus 06:00
BULLETIN 19 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê hy is sterk gekant teen enige belastingverhogings
# Die GOOD-party vra vir ‘n vangnet teen werkloosheid
# En Hamas sal môre die liggame van vier gyselaars vrystel
# Die DA sê hy is bekommerd oor berigte van belastingverhogings in die minister van Finansies, Enoch Godongwana se begrotingsrede vandag. Die Nasionale Tesourie het reeds aangevoer dat permanente bestedingsverhogings deur permanente belastingverhogings gerugsteun moet word. Mark Burke van die DA sê Godongwana moet eerder oorweeg om die 1,8-miljard-rand vir die ontplooiing van soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo en die Tesourie se besteding van 2,9-miljard-rand vir Internasionale Finansiële Betrekkinge te sny:
COSATU betoog intussen vandag in die Wes-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal teen besuinigingsmaatreëls. Die betogings val saam met Godongwana se begrotingsrede. COSATU veroordeel die vermindering in befondsing vir kritieke sektore soos onderwys en gesondheid, wat personeeltekorte en swak dienslewering meebring. Die vakbond dring aan die Nasionale Tesourie moet ‘n begroting vir die mense aanneem wat Suid-Afrikaners se behoeftes eerste stel.
# Die GOOD-party sê die werkloosheidskoers bly hardnekkig hoog op 31,9-persent, en versoek die regering om ‘n maatskaplike veiligheidsvangnet te verskaf. Die party waarsku daar is tans agt-miljoen mense sonder ‘n inkomste en moedelose werksoekers toon ‘n toename van 111-duisend. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, vra die regering van nasionale eenheid om ‘n basiese inkomstetoelaag van minstens een-duisend-rand per maand in te stel:
# Die Stad Tshwane herinner alle spaza-winkeleienaars en voedselhanteringsondernemings om voor die sperdatum op 28 Februarie 2025 te registreer om te verhoed dat hulle ondernemings gesluit word. Vier-duisend-222 aansoeke is tot dusver ontvang, met 55-persent wat deur Suid-Afrikaanse burgers besit word en meer as ‘n derde die eiendom van vroue. Slegs 192 is goedgekeur. Die burgemeesterskomiteelid, Sarah Mabotsa, versoek ondernemings om aanlyn aansoek te doen op hul slimfoon of rekenaar of om die munisipale kantore te besoek om nakoming te verseker en operasionele ontwrigtings te keer.
# Hamas sê hy sal môre [Donderdag] die liggame van vier Israelse gyselaars vrystel, insluitend die twee jongste gyselaars wat deur die militante groep in Gaza aangehou is. Kfir en Ariel Bibas was onderskeidelik nege maande en vier jaar oud toe Hamas hulle tydens die 7 Oktober 2023-aanval in Israel ontvoer het. Die ooreenkoms is bereik tydens onderhandelinge in Kaïro. Hamas sê hy sal ook Saterdag ses lewende gyselaars vrylaat, dubbel die getal wat oorspronklik beplan is, in ruil vir honderde Palestynse gevangenes wat deur Israel aangehou word.
# Rugby: Die Blitsbokke het hierdie naweek Sebastian Jobb en Tristan Leyds terug vir die Vancouver Sewes-toernooi. Jobb is ‘n 25-jarige Junior Springbok en het die afgelope 24 maande ʼn rits beserings opgedoen nadat hy in 2023 sy buiging vir die Blitsbokke gemaak het. Spelskepper Leyds is gretig om weer te speel nadat hy die vorige toernooi in Perth weens ʼn besering misgeloop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-496-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-934-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….