Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is teleurgesteld oor sy uitsluiting van die vergadering met die Europese Unioe
# Amerika en Rusland begin gesprekke wat daarop gemik is om die Oekraïnse oorlog te beëindig
# En krieket: Nog ‘n beseringterugslag vir Nieu-Seeland aan die vooraand van die Kampioenetrofee
# Die DA is teleurgesteld omdat die party na bewering verhinder word om deel te neem aan die tussenparlementêre vergadering tussen Suid-Afrika en die Europese Unie wat môre begin. Die DA wou die saak opneem met die parlementêre kantoor vir Internasionale Betrekkinge, maar is meegedeel slegs ANC-lede gaan Suid-Afrika verteenwoordig, terwyl die DA waarnemerstatus sal hê. Woordvoerder Emma Louise Powell sê die party beplan om te probeer om regstreeks met lede van die Europese Parlement te skakel:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in die Oos-Kaap is bekommerd oor die regering se gebrek aan optrede oor die uitwissing van puttoilette. Dit volg na ‘n studie deur die kommissie, wat bevind het meer as 400 skole in die provinsie maak steeds op onveilige puttoilette staat. Woordvoerder Eileen Carter het aan die SABC gesê dit is ‘n mislukking deur die departement om nie voorrang te gee aan die veiligheid, waardigheid en opvoeding van leerders nie:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, Sello Seitlholo, waarsku die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes om verordeninge af te dwing om besoedeling by die Hartbeespoortdam te bekamp, wat deur rommelstrooiers en nywerhede se chemiese storting veroorsaak word. Magalies Water is aangestel om ‘n herstelprogram te ontwikkel om besoedelingstowwe te identifiseer en drywende plante, hiasinte en alge te verwyder wat die watergehalte negatief beïnvloed. Seitlholo het aan Newzroom Afrika gesê tussenregering-samewerking is nodig om besoedelaars aanspreeklik te hou:
# Samesprekings tussen Amerika en Rusland oor die beëindiging van die oorlog in Oekraïne, het in Saoedi-Arabië begin – die eerste persoonlike ontmoeting sedert Moskou se inval drie jaar gelede. Die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, en sy Amerikaanse eweknie, Marco Rubio, is teenwoordig, maar Oekraïne en Europa is afwesig. Volgens Amerika is die samesprekings ‘n eerste stap om te sien of Rusland ernstig is om die oorlog te beëindig, terwyl Rusland hoop om betrekkinge met Amerika te normaliseer. President Volodymyr Zelensky sê Oekraïne sal nie ooreenkomste erken wat sonder hulle aangegaan is nie.
# Krieket: Nieu-Seeland het nog ‘n terugslag beleef op die vooraand van die Kampioenetrofee toe die ervare snelbouler, Lockie Ferguson, weens ʼn voetprobleem aan die toernooi in Pakistan moes onttrek. Die 33-jarige is verlede maand beseer tydens ʼn wedstryd in ‘n T20-liga in die Verenigde Arabiese Emirate en word vervang deur Kyle Jamieson. Ferguson is die tweede ongeval in Nieu-Seeland se groep van 15 nadat nog ‘n snelbouler, Ben Sears, ‘n dyspierbesering opgedoen het. Jacob Duffy het hom vervang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-786-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-913-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….