Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die werkloosheidsyfer daal tot 31,9-persent in die vierde kwartaal van 2024
# Die Menseregtekommissie vra die publiek om nie verdere gewelddadige video’s van die Zanzou-nagklub te deel nie
#En krieket: Die Proteas speel teen Australië, Engeland en Afganistan in die groepsafdeling van die Kampioenetrofee
# Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagopname vir die vierde kwartaal van 2024 toon ‘n effense daling in die werkloosheidskoers tot 31,9-persent, vanaf 32,1-persent in die vorige kwartaal. Indiensneming het met 132-duisend toegeneem, wat die algehele syfer op 17,1-miljoen te staan bring. Moedelose werksoekers het egter met 111-duisend gegroei en jeugwerkloosheid bly hoog op 44,6-persent. Die Statistikus-generaal, Risenga Maluleke, het op ‘n nuuskonferensie gesê die meeste groei was in die finansiële sektor waar 232-duisend werksgeleenthede bygevoeg is:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie versoek die publiek om op te hou om video’s van die aanvalle by die Zanzou-nagklub in Pretoria te deel. Die kommissie se provinsiale bestuurder, Zamantungwa Mbeki, het aan SABC News gesê die grafiese beeldmateriaal toon duidelike menseregteskendings. Mbeki waarsku indien dit gedeel word, kan dit verdere viktimisering veroorsaak. Sy beklemtoon hoe belangrik dit is om die waardigheid en regte te beskerm van diegene wat geraak word:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het sy bedrywighede vir vandag opgeskort weens ‘n kragonderbreking in die middestad. Die hof se kragopwekker is ook buite werking. Partye wat geraak is, sal gekontak word om alternatiewe reëlings vir geskeduleerde sake te tref. Owerhede vra om verskoning vir die ongerief en versoek geduld terwyl aandag aan die kwessie gegee word.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het spaza-winkeleienaars en voedselondernemings gewaarsku regstappe kan volg as hulle nie teen 28 Februarie geregistreer is nie. Die sektor het dus elf dae oor om by munisipaliteite te registreer. Dit volg nadat dodelike voedseloordraagbare siektes verlede jaar uitgebreek en bykans 30 sterftes veroorsaak het. Hlabisa het sake-eienaars gevra om te registreer en waarsku nie-nakoming sal nie geduld word nie:
# Krieket: Suid-Afrika pak Australië, Engeland en Afganistan in Groep B van die Kampioenetrofee wat môre in Pakistan begin. Groep A bestaan uit die gashere, Indië, Nieu-Seeland en Bangladesj. Elke span speel een keer teen die ander in die groep en verdien twee punte vir ‘n oorwinning en een punt vir wedstryde wat nie ‘n uitslag oplewer nie. Die boonste twee spanne in elke groep kwalifiseer vir die halfeindstryde. Die Proteas se eerste wedstyd is Vrydag teen Afganistan en die eindstryd word op 9 Maart gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-702-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-911-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….