Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Zero Carbon Charge vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om môre in sy begrotingsrede voorkeur te gee aan koolstofverminderingsteikens. Die sonkrag-gedrewe laaistasieverskaffer vra finansiële aansporings om gebruik van elektriese voertuie te bevorder en herlaai-infrastruktuur te ontwikkel wat nie op die netwerk is nie. Joubert Roux van die organisasie vra ‘n koolstofkrediet-handelstelsel om belegging in skoon energie te bevorder en Suid-Afrika te help om sy netto-nul vervoerdoelwitte te bereik:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, Sello Seitlholo, waarsku die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes om verordeninge af te dwing om besoedeling in die Hartbeespoortdam te bekamp, wat deur rommelstrooiers en nywerhede se chemiese storting veroorsaak word. Magalies Water is aangestel om ʼn herstelprogram te ontwikkel om besoedelingstowwe te identifiseer en drywende plante, hiasinte en alge te verwyder wat die watergehalte negatief beïnvloed. Seitlholo het aan Newzroom Afrika gesê tussenregering-samewerking is nodig om besoedelaars aanspreeklik te hou:
# En ten slotte: Uiterste weer en lewensgevaarlike lae temperature in Amerika gaan later hierdie week die westelike state naby die Rocky-gebergtes tref. Amerika se nasionale weerdiens verwag ‘n winterstorm met temperature wat onder minus-40 grade Celsius gaan daal. Dit is die tiende en koudste pool-draaikolk sover hierdie seisoen, met drukstelsels wat koue lug van die Noordpool suidwaarts na Noord-Amerika en Europa laat beweeg. Die draaikolk is ‘n groot gebied van lae druk en koue lug wat die Noord- en die Suidpool omring en gereeld in die wintermaande voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….