Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kernenergie-korporasie se ses programme gemik op die hervatting van kernbrandstofproduksie sal 50-miljard-rand kos
# Rusland sê enige blywende vrede moet ’n gedemilitariseerde Oekraïne insluit
# En tennis: Novak Djokovic kritiseer teenstrydighede in opkikkersake waarby topspelers betrokke is
# Die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie sê sy hoë-impakprogram wat kernbrandstofproduksie en kleinskaalreaktors gaan laat herleef, sal sowat 50-miljard-rand kos. Eskom werk sedert verlede jaar saam met die korporasie om ‘n klein modulêre reaktor van 100-megawatt te ontwikkel terwyl die kragnutsmaatskappy beoog om sy steenkoolkragstasies vir ander doeleindes aan te wend. Die korporasie se uitvoerende hoof, Loyiso Tyabashe, sê hulle fokus opnuut op hulle hoofmandaat van kernnavorsing en vernuwing om die kernbedryf te ondersteun:
# Die burgerlike organisasie SANCO in Gauteng eis dat die Zanzou-nagklub in Pretoria se lisensie teruggetrek moet word. Dit volg na video’s wat die rondte doen van ‘n groep mans wat by die kroeg gemartel en aangerand word. Drie slagoffers van die beweerde aanrandings het aanklagte by die Brooklyn-polisiekantoor gelê. Abram Mashishi van SANCO doen ‘n beroep vir die vinnige inhegtenisneming van die oortreders, en aanspreeklikheid:
# Rusland sê enige blywende vredesooreenkoms in Oekraïne vereis ‘n gedemilitariseerde en neutrale staat wat nie deel is van enige blok of alliansie nie. Senior Amerikaanse en Russiese diplomate onderhandel vandag in Saoedi-Arabië oor pogings om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Rusland se vaste verteenwoordiger by die Verenigde Nasies, Vasily Nebenzya, sê die Europese Unie kan nie enige ooreenkoms met Moskou sluit nie en kan nie deel wees van enige toekomstige ooreenkomste oor die oorlog in Oekraïne nie. Hy beskuldig die lande dat hulle verblind word deur “Russiefobie”.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, sê die meerderheid spelers voel Jannik Sinner se ligte skorsing is onregverdig en die groot name in sport word voorgetrek. Die Italiaanse wêreld-nommer-een het ‘n onmiddellike skorsing van drie maande aanvaar nadat hy ʼn ooreenkoms met die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport bereik het oor sy twee positiewe opkikkertoetse verlede jaar. Djokovic sê die stelsel moet hersien word om te keer dat spelers laer op die punteleer anders behandel word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-299-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-910-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde akteur, Matt Damon, vertolk die rol van Odusseus in Christopher Nolan se komende sterbelaaide fliek, The Odyssey, wat in Julie volgende jaar vrygestel word. Dit volg die Griekse kampioen Odusseus op sy onstuimige reis huis toe ná die Trojaanse oorlog. Damon se medesterre sluit in Charlize Theron, Tom Holland, Zendaya, Robert Pattinson, Lupita Nyong’o en Anne Hathaway. Nolan het in Maart verlede jaar die Oscar ontvang as beste regisseur vir Oppenheimer, wat ook die beste fliek was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….