Nuus 06:00
BULLETIN 18 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA versoek Godongwana om fiskale dissipline en skuldvermindering eerste te stel
# Save South Africa vra vir ‘n begroting wat armes bevoordeel
# En motorsport: Ruche Moodley sluit by die Binder-broers aan in die 2025 Wêreldkampioenskap
# Business Leadership SA vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die vermindering van skuld en verstandige besteding voorop te stel. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso skryf in haar weeklikse nuusbrief vanjaar se begroting sal die regering van nasionale eenheid se vermoë toets om bestedingsdoelwitte te kies en nie partypolitiek wat die land bevoordeel nie. Sy vra die regering om sterk internasionale handelsbetrekkinge te handhaaf en belegging in die privaat sektor te stimuleer om skadelike belastingverhogings te vermy. Mavuso is optimisties die begroting sal ekonomiese groei en belegging aanwakker.
Die Save South Africa Civic Movement het intussen Godongwana gevra om te verseker dat die komende begroting arm mense bevoordeel en op uitdagings soos werkloosheid, armoede en werkskepping fokus. Hulle sê die sny van begrotings benadeel noodsaaklike dienste en dra by tot geestesgesondheiduitdagings, veral onder swak-besoldigde werkers in sektore soos die polisie en onderwys. Tebogo Mashilompane van die beweging vra ook vir ‘n einde aan korrupte tenderstelsels, verhoogde befondsing vir gesondheid en onderwys en die nasionalisering van myne:
# Die EFF in Gauteng vra dat die eienaar van die Zanzou Bar and Lounge in Pretoria, Stephane Cohen, in hegtenis geneem en die nagklub gesluit word. Dit volg nadat video’s op sosiale media versprei is wat wys hoe klante by die klub aangerand en verneder word. Die bestuur van Zanzou ontken aantygings wat die video’s met onbetaalde rekeninge verbind, en sê dis buitensporige geweld deur afgedankte sekerheidspersoneel oor selfoondiefstal. Die EFF sê hy gaan die voorval by die Menseregtekommissie aanmeld.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie veroordeel Saterdag se noodlottige skietery op die Islamitiese geloofsleier, Muhsin Hendricks, in Gqeberha. Hendricks was bekend as die wêreld se eerste openlike gay Imam en ‘n sterk voorstander van LGBTQI+-insluiting. Wisani Baloyi van die kommissie eis ‘n deeglike ondersoek en sê owerhede moet geregtigheid verseker:
# Pous Franciskus word behandel vir ‘n ingewikkelde kliniese toestand en sal in die hospitaal bly so lank as wat nodig is. Die 88-jarige is Vrydag in die Gemelli-hospitaal in Rome opgeneem vir behandeling en toetse vir bronchitis. Die Vatikaan sê die pous het ‘n polimikrobiese infeksie van sy asemhalingskanaal. Die Argentynse pous is reeds byna 12 jaar hoof van die Rooms-Katolieke Kerk. Hy het al verskeie gesondheidsprobleme in sy lewe gehad, insluitend die verwydering van ‘n deel van ‘n long toe hy 21 was.
# Motorsport: Drie Suid-Afrikaanse motorfietsjaers verteenwoordig die land in 2025 se Wêreldkampioenskap wat op 2 Maart in Thailand begin en op 16 November in Valencia, Spanje, ten einde loop. Die tiener Ruche Moodley, wat in Gqeberha gebore is, maak sy buiging in Moto3. Die 18-jarige jaer is die seun van die voormalige Suid-Afrikaanse superfietskampioen, Arushen Moodley. Hy sluit nou aan by Brad Binder, wat in MotoGP meeding, en sy broer, Darryn, in Moto2, wat Suid-Afrika se verteenwoordiging in al drie afdelings van die seisoen van 22 wedrenne voltooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-816-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-897-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….