Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Lusikisiki-massamoordsaak word uitgestel vir verdere ondersoek
# Die Russiese minister van Buitelandse Sake sê hy sien geen rol vir Europa in samesprekings oor ‘n wapenstilstand nie
# En krieket: Gewese Pakistanse kapteins glo die Kampioenetrofee sal die land se liefde vir die spel laat herleef
# Die verhoor van agt mans wat beskuldig word van die moord op 18 mense verlede jaar in Lusikisiki in die Oos-Kaap, is tot die tiende van volgende maand uitgestel vir verdere ondersoek. Die saak sal oorgeplaas word na die Hooggeregshof in Mthatha. Die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, sê alle beskuldigdes, insluitend die jongste verdagte, Songezo Vuma, bly in aanhouding en staan tereg op aanklagte van moord en die onwettige besit van vuurwapens:
# Die hoofrabbi van die Ortodokse Sinagoges in Suid-Afrika, Warren Goldstein, is terug in die land nadat hy in Israel was om diplomatieke bande tussen Israel en Suid-Afrika te vestig. Goldstein het tydens sy ontmoeting met president Isaac Herzog en die minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, die band tussen Suid-Afrikaanse Jode en Israel beklemtoon. Hy het ook die Amerikaanse president, Donald Trump, bedank omdat hy vir Suid-Afrika omgee:
# Die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, sê hy sien geen rede waarom Europeërs moet deelneem aan vredesgesprekke vir Oekraïne nie, en beweer hulle wil die oorlog in die land voortsit. Lavrov het die verklaring uitgereik voor sy besoek aan Saoedi-Arabië om Amerika te ontmoet terwyl Europese leiers in Parys vergader vir ‘n noodberaad oor Oekraïne. Amerika wil hê Rusland en Oekraïne moet toegewings maak indien samesprekings oor ‘n wapenstilstand ooit verwesenlik word. Lavrov sê Moskou sal nie ‘n kompromie aangaan oor grondgebied wat hy in die ooste en suide van die Oekraïne beset het nie.
# Krieket: Die voormalige Pakistanse kapteins Inzamam-ul-Haq, Misbah Ul Haq en Aamer Sohail glo die Kampioenetrofee sal die land se liefde vir die spel laat herleef. Dis die eerste keer sedert 1996 dat Pakistan ‘n groot toernooi aanbied. Die land het ook jare lank sy tuiswedstryde in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel na ‘n terreur-aanval op ‘n besoekende span se bus in 2009. Misbah sê dis ‘n groot geleentheid vir aanhangers en jong spelers om die sterre in lewende lywe te sien. Die toernooi begin Woensdag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-858-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-898-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê volgens die jongste syfers was daar van 2020 tot 2024 ʼn aansienlike daling in MIV-besmettings in die provinsie. In 2020 was daar in die groep 15-tot-24-jaar 2,9-persent nuwe MIV-gevalle, maar in 2024 is net een-persent aangemeld. In dieselfde tydperk was daar in die groep 25-tot-49-jaar 5,1-persent nuwe gevalle, wat in 2024 tot 2,9-persent gedaal het. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê in Februarie verlede jaar is 30-duisend-676 mans vir seksueel oordraagbare siektes getoets:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….