Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Lusikisiki-massamoordsaak word uitgestel vir verdere ondersoek
# Tennis: Medvedev hoop die Sinner-saak sal lei tot ‘n regverdiger bestel
# En, sjokolade gaan duurder word weens stygende kakaopryse
# Die verhoor van agt mans wat beskuldig word van verlede jaar se moord op 18 mense in Lusikisiki in die Oos-Kaap, is tot die tiende van volgende maand uitgestel vir verdere ondersoek. Die saak sal oorgeplaas word na die Hooggeregshof in Mthatha. Die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, sê alle beskuldigdes, insluitend die jongste verdagte, Songezo Vuma, bly in aanhouding en staan tereg op aanklagte van moord en die onwettige besit van vuurwapens:
# Die adjunkminister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, veroordeel berigte oor eienaars wat seksuele gunste eis van studente in ruil vir verblyf. Hy het NSFAS se verbintenis om oortreders op die swartlys te plaas verwelkom en vra strenger toesig. Manamela het studente verseker NSFAS skenk aandag aan befondsingsvertragings om naatlose registrasies te verseker. Hy sal verskeie provinsies besoek om die vordering te evalueer. Studente wat worstel met uitbuiting of befondsingskwessies word versoek om dit onmiddellik aan te meld.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum versoek die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om minstens die maatskaplike toelae te verhoog vanweë die stygende lewenskoste. Die minister lewer Woensdag sy begrotingstoespraak. Die president van die forum, Marothi Mashashane, sê die minister behoort eers die armes te help en dan oplossings vind vir die ekonomiese en maatskaplike faktore wat tot armoede en ongelykheid bydra:
# Tennis: Die Russiese speler, Daniil Medvedev, vertrou die skikking wat die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, met die Wêreldagentskap vir Verbode Middels in Sport bereik het, skep ‘n presedent. Die Italianer het ʼn skorsing van drie maande aanvaar nadat hy ‘n jaar gelede positief getoets het vir uiters lae vlakke van ʼn verbode middel, en waarskynlik daardeur ʼn baie langer skorsing vrygespring. Volgens Medvedev kon Sinner waarskynlik skik omdat hy goeie regsverteenwoordigers kon bekostig, wat die meeste spelers nie kan doen nie. Hy sê hopelik sal alle spelers voortaan hulleself kan verteenwoordig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-319-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-896-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die prys van sjokolade gaan styg omdat streke wat kakao vervaardig, insluitend Wes-Afrika en Brasilië, sukkel met toenemende droogte. Kenners waarsku klimaatsverandering en ontbossing vererger hierdie droë toestande en bedreig kakao-oeste asook wêreldwye voedselsekerheid. Hulle sê indien daar nie dringend opgetree word nie kan kakaotekorte meer algemeen voorkom, wat die koste van sjokolade sal verhoog en die landbousektor raak. Kenners bepleit volhoubare oplossings om die agteruitgang van die grond te bekamp en toekomstige oeste te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….