Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Februarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Weskus is vinnig besig om ‘n aangewese bestemming vir walvisbesigtiging te word waar die boggelrug-, Suidelike noorkapper- en Bryde se walvis deur die jaar gesien kan word. Dié oplewing volg nadat die jag van walvisse in 1986 verbied is en walvisgetalle toegeneem het. Die databestuurder van Happywhale in Suider-Afrika, Alex Vogel, sê ‘n hele supergroep boggelrug-walvisse is in slegs een maand aan die Weskus opgemerk, insluitend ‘n verstommende 279 individuele diere. Die verskynsel bied unieke geleenthede vir navorsers, omgewingsbewaarders en toeriste om die diere te besigtig.
# Die organisasie sonder winsbejag, Hearo, maak aansienlike vordering om toegang tot noodsaaklike gehoorsorg en rehabilitasie in Suid-Afrika te verskaf. Hearo is in 2023 gestig en probeer om die gaping tussen beperkte regeringsfondse en die behoefte aan hersteldienste te vul om seker te maak alle pasiënte het toegang tot ondersteuning. Die organisasie se eerste fondsinsameling is by die Kaapstadse Fietstoer op 9 Maart en hulle nooi deelnemers om hulle ou fietse te skenk om na die wedren op te veil of te verkoop om fondse in te samel.
# ‘n Doktorsgraad-kandidaat aan die Universiteit van Johannesburg, Mosa Khasu, het die People’s Choice-toekenning op die Universitas 21 Internasionale Drieminuuttesis-kompetisie gewen. Die kompetisie daag doktorale studente van navorsingsuniversiteite om hul navorsing in slegs drie minute met ʼn enkele statiese skyfie aan te bied. Khasu se bekroonde PhD-navorsing, Towards a Signature Pedagogy for Playwriting as a Language Teaching Tool in the Primary School, ondersoek hoe dramatekste gebruik kan word om laerskoolleerders bekend te stel aan Sotho- en Zoeloe-woordeskat wat met kunsmatige intelligensie verband hou.
# Vier navorsers van die Universiteit van Kaapstad is onder 30 wetenskaplikes wat in die L’Oréal-UNESCO-stigting vir Vroue in Wetenskap se program vir Jong Talent in Afrika suid van die Sahara erken word. Die drie doktorale studente en een post-doktorale genoot is gekies vir hul werk om oplossings vir groot wetenskaplike uitdagings te vind, soos voedselsekerheid, openbare gesondheid en klimaatverandering. Hulle is uit sowat 800 aansoekers gekies en ontvang finansiële bystand, leierskapsopleiding en vaardigheidsontwikkeling, asook hulpmiddels om geslagsvooroordeel in die werkplek te oorkom.
# En ten slotte: Edward Berger se Vatikaan-riller, Conclave, het vier BAFTA-filmtoekennings ingepalm, insluitend beste fliek en uitstaande Britse fliek. Dit is die eerste keer sedert 2019 dat ‘n fliek albei toekennings in een jaar wen. Dit is ook bekroon vir beste aangepaste draaiboek en redigering. The Brutalist, oor ‘n Hongaarse modernistiese argitek in die na-oorlogse Amerika, het vier toekennings opgeraap, insluitend beste regisseur vir Brady Corbet, en beste hoofrolspeler vir Adrien Brody. Mikey Madison is aangewys as die beste aktrise in ‘n hoofrol vir Anora. Emilia Peréz was die beste anderstalige rolprent, met Zoe Saldaña as beste ondersteunende aktrise.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….