Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ontwrigtende reën sal tot Donderdag voortduur in die sentrale en oostelike dele van die land. Sowat 20 tot 50 millimeter reën word in provinsies soos Noordwes, Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga verwag. Weervoorspeller Lehlohonolo Thobela sê vogtige, tropiese lug uit ‘n kontinentale laagdruk bo Botswana is die hoofoorsaak van die huidige bewolkte en reënerige toestande:
# ʼn Nuwe studie deur die Nasionale Navorsingstigting se Sentrum vir Uitnemendheid in Voedselsekerheid het belangrike proteïnes ontdek wat sorghum in staat stel om droogte en hitte te weerstaan. Sorghum is ‘n stapelvoedsel vir meer as 500-miljoen mense in meer as 30 lande. Die studie het unieke veranderinge in proteïne gevind wanneer dit aan droogte en hitte blootgestel word. Die reaksie van blare en dié van wortels het ook verskil.
# En ten slotte: Die Weskus is vinnig besig om ‘n aangewese bestemming vir walvisbesigtiging te word waar die boggelrug-, Suidelike noorkapper- en Bryde se walvis deur die jaar gesien kan word. Dié oplewing volg nadat die jag van walvisse in 1986 verbied is en walvisgetalle toegeneem het. Die databestuurder van Happywhale in Suider-Afrika, Alex Vogel, sê ‘n hele supergroep boggelrug-walvisse is in slegs een maand aan die Weskus opgemerk, insluitend ‘n verstommende 279 individuele diere. Die verskynsel bied unieke geleenthede vir navorsers, omgewingsbewaarders en toeriste om die diere te besigtig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….