Nuus 08:00
BULLETIN 17 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa finaliseer die name van die internasionale afgevaardigdes wat die land se beleid gaan verduidelik
# Meer as honderd gevalle van hand-, voet- en mondsiekte is in KwaZulu-Natal aangemeld
# En Netanyahu beloof die poorte van die hel sal oopgaan as alle gyselaars nie vrygelaat word nie
# President Cyril Ramaphosa gaan hierdie week die name finaliseer van internasionale gesante wat na verskeie lande gestuur sal word om Suid-Afrika se buitelandse en plaaslike beleid te verduidelik. Dit volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, hulpbefondsing aan die land weens die Onteieningswet gestaak en vlugtelingstatus aan Afrikaners gebied het. Adjunkpresident Paul Mashatile het in ‘n onderhoud aan eNCA gesê die sending sal uit ʼn breë afvaardiging bestaan:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys het die onetiese praktyke binne en buite die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente veroordeel. Volgens die Spesiale Ondersoekeenheid is daar studente wat op bedrieglike wyse toegang tot befondsing gekry het terwyl sommige skema-werknemers doelbewus aansoekers wat nie kwalifiseer nie, goedgekeur het. Die eenheid sê die skema het onlangs alle studente wat voorheen goedgekeur is, geëvalueer en bevind ongeveer 40-duisend kwalifiseer nie vir befondsing nie. Die komitee het kommer uitgespreek oor die stelselprobleme om bedrog in die hulpskema te bekamp.
# Die KwaZulu-Natalse Gesondheidsdepartement het kommer uitgespreek oor die toename in gevalle van hand-, voet- en mondsiekte in die provinsie. Die eerste ses gevalle is tussen die sesde en tiende Februarie aangemeld en sedertdien het die getal bevestigde gevalle tot 117 gestyg. Die LUR vir Gesondheid, Nomagugu Simelane, sê laerskole en dagsorgsentrums in Phoenix, Greenwoodpark en Umhlanga het gevalle aangemeld:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het gesê die hel sal losbreek as Hamas nie al die gyselaars in Gaza vrylaat nie. Dit kom net twee weke voor die eerste fase van die brose skietstilstand tussen Israel en Gaza tot ʼn einde sal kom. Die tweede fase waarin Hamas onder andere die orige gyselaars moet vrylaat in ruil vir nog Palestynse gevangenes, moet nog onderhandel word. Netanyahu sê hy is vasbeslote om seker te maak Hamas is nooit weer ʼn bedreiging vir Israel nie:
# Tennis: Die voormalige kampioen, Belinda Bencic, wat ses agtereenvolgende wedstryde gewen het, is deur na die tweede ronde van die Dubai-kampioenskap. Sy het die Japannese kwalifiseerder, Aoi Ito afgeransel. Elina Svitolina van Oekraïne het die Rus, Anna Kalinskaya, in skoon stelle verslaan terwyl die Brit, Emma Raducanu, met Maria Sakkari van Griekeland afgereken het. Karolina Muchova van die Tsjeggiese Republiek, die Amerikaner Emma Navarro, en Paula Badosa van Spanje is ook deur na die tweede ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 10-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-86-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-900-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….